Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 Desember 2023:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oor die verlies in verkope van 1,6-miljard-rand wat Spar gely het met die mislukte installering van SAP-sagteware.
# En Mail & Guardian op ‘n Vrydag:
Skryf jare ná die afsterwe van Nelson Mandela hang sy skaduwee steeds oor die politieke lugleegte wat hy in Suid-Afrika nagelaat het.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor die hittegolf wat die afgelope dae die noord-ooste van die land teister. Rekordtemperature is aangeteken en die boere is bekommerd oor die min en laat reën.
En tweedens skryf die koerant die 37-jarige Pardon Danhire wat aangekla word van die moord op Nadine Terblanche en haar negejarige seun Ruandré van Alberton het aangedui hy gaan homself in die hof verdedig.
# The Star en Pretoria News:
Skryf MIV/Vigs bly steeds ‘n openbare gesondheidsorgprobleem in Suid-Afrika.
En berig die leerder van Tzaneen wat die k-woord op sosiale media gebruik het, sê hy is jammer hy het dit gedoen.
# Sowetan:
Berig oor die reuseverlies aan werksgeleenthede in die mynboubedryf weens beurtkrag. Afgedankte mynwerkers vertel hoe hulle nou op koolblare moet oorleef.
# En The Citizen:
Skryf Ford is die tweede groot motorvervaardiger in die land wat sê dit raak moeilik om in Suid-Afrika sake te doen. Volkswagen het ook vroeër die opmerking gemaak dat hy sy prinsipale moet oortuig om in Suid-Afrika aan te bly.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ‘n boer van Bray in Noordwes, Ockert Goosen het bykans een-miljoen-rand se skade gely toe 44 beeste gevrek het nadat die water op sy plaas vergiftig is.
En tweedens skryf die koerant Elsie Troskie sal nou haar eis teen die boedel van haar man, die rolprentmagnaat Boet Troskie, in die Hooggeregshof in Bloemfontein moet bewys. Elsie Troskie eis die herehuis wat aan sy kinders bemaak is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens die Wes-Kaap sal geen fondse van Nasionale Rampbestuursentrum ontvang om te help om die nagenoeg een-miljard-rand se vloedskade te herstel nie aangesien die sentrum se fondse uitgeput is.
Dan skryf die koerant oor die skok en hartseer by die Klapmuts Primary School nadat drie leerders onverwags dood is. Een kind is aan nierversaking dood en twee ander is onder ‘n boom deur ‘n voertuig getref.
En laastens is daar nuus oor rowers wat selfs die uniforms van die polisiebeamptes se lywe af gesteel het toe hulle die Hogsback-polisiekantoor in die Oos-Kaap beroof het.
# En Cape Times:
Skryf Alan Boesak het die Kabinet beskuldig van ruggraatlose optrede oor Israel.
En berig tweedens daar is talle vrae oor die opgradering van die Oos-Londense strandgebied teen sowat 87-miljoen-rand.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het gister verskeie staatsdepartmente se krag afgesny oor wanbetaling. Die Noord-einde Gevangenis het ter elfder ure onderhandel dat sy krag aanbly.
En tweedens skryf die koerant oor die munisipaliteit se planne om die stad se strandgebied te beveilig. Fiets- en voetpatrollies, padversperrings en die herstel van beligting maak deel uit van die plan.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die beskuldigdes in die straatligdiefstalsaak in eThekwini is tien-duisend-rand borgtog toegestaan.
En berig nuwe nommerplate vir KwaZulu-Natal sal volgens die provinsiale regering sorg vir ‘n gemeenskaplike identiteit vir die provinsie se motoriste.
# En Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die KwaZulu-Natalse provinsiale begroting is teruggesny om besparing te bewerkstellig.
En berig tweedens oor die beproewing wat ‘n vrou van Northdale moes deurmaak tydens haar ontvoering.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Vereniging van Namibiese Mediese Fondse se aankondiging dat 2023 se standaardtariewe steeds in 2024 geld, kom neer op ’n verlaging van lede se voordele omdat die fondse nie lede vir mediese inflasie sal vergoed nie.
En skryf tweedens die baanbreker in digitale gesondheidsorg, dr. Esperance Luvindao het die telemedisyne-diens Menga gestig om kritieke gapings in Afrika se gesondheidstelsels te takel.