Nuus 08:00
BULLETIN 5 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
#Die Tesourie sê; ‘n fiskale stratgie is bereikbaar, selfs in ‘n koalisie-omgewing
# Nog Openbare Order-polisiebeamptes in KZN ontplooi
# En, tennis: Dit is Sinner teen Alcaras in die halfeindstryd van die Franse Ope
# Die Nasionale Tesourie sê hy gaan onder ‘n koalisieregering by ʼn gebalanseerde fiskale beleid hou. Die ANC het sy volstrekte meerderheid die eerste keer sedert 1994 verloor en sal ʼn koalisieregering moet vorm. Die sakegemeenskap is bekommerd dat die ANC ʼn koalisie met die EFF of Jacob Zuma se MK-party kan aangaan. Die Tesourie se direkteur-generaal, Duncan Pieterse, sê ʼn gebalanseerde makro-fiskale beleid is meer houbaar in ʼn onseker politieke omgewing.
# Die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, het meer as 300 bykomende openbare-orde-polisiebeamptes in KwaZulu-Natal ontplooi. Dit is om polisie-optrede ná die verkiesing beter te hanteer. Vrese bestaan dat onluste soortgelyk aan dié in Julie 2021 moontlik kan uitbreek nadat die verkiesingsuitslag Sondag aangekondig is. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê wetstoepassingsagentskappe is gereed vir enige voorvalle wat mag opduik:
# Die voorverhoorkonferensie teen die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester en sy agt medebeskuldigdes, insluitend sy vriendin, Nandipha Maguduma, sal na verwagting vandag in die Bloemfonteinse hooggeregshof hervat word. Hulle word almal daarvan beskuldig dat hulle Bester in Mei 2022 gehelp het om uit die Mangaung-gevangenis te ontsnap waar hy lewenslange tronkstraf uitgedien het. Bester, daarenteen, staan tereg op ‘n aanklag van ontsnapping uit die tronk. Bester, Magudumana en Zanda Moyo bly in aanhouding terwyl die ander beskuldigdes uit is op borgtog van tien-duisend-rand elk.
# Indië se eerste minister, Narendra Modi, het ʼn derde agtereenvolgende termyn gewen, maar sy Bharatiya Janata-party kon nie ʼn volstrekte meerderheid in die Parlement behaal nie. Sy party sal dus saam met koalisievennote ʼn regering moet saamstel. Die party het 62 setels verloor, wat sy totaal op 240 te staan bring terwyl hy 272 nodig het vir ʼn parlementêre meerderheid. Modi sal waarskynlik met die Nasionale Demokratiese Alliansie ʼn regering vorm. Die opposisiekoalisie, die Indian National Developmental Inclusive Alliance, het bo verwagting goed presteer en saam meer as 230 setels opgeraap.
# Tennis: Die tweede gekeurde Jannik Sinner sal in die halfeindronde van die Franse Ope teen Carlos Alcaraz van Spanje te staan kom. Sinner het sy strewe na ‘n tweede agtereenvolgende Grand Slam-titel voortgesit deur Grigor Dimitrov van Bulgarye met 6-2, 6-4, 7-6 te klop. Die Italianer sal Maandag tot wêreldnommer een op die ranglys styg nadat Novak Djokovic hom weens ’n besering voor sy kwarteindstryd onttrek het. Alcaraz het Stefanos Tsitsipas van Griekeland met 6-3, 7-6, 6-4 uitgeskakel. Sinner sê om wêreldnommer een te word is vir hom spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-901-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-335-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….