Nuus 08:00
BULLETIN 31 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die rand en JSE struikel terwyl die verkiesingsuitslae instroom
# Helen Zille sê koalisiegesprekke is voortydig
# En tennis: Djokovic bespreek sy 19de agtereenvolgende derde ronde by Roland Garros
# Die rand en die JSE het gister gedaal terwyl die verkiesingsuitslae stadig inkom. Die geldeenheid het tot 1,1-persent teen die dollar verloor en verhandel teen ongeveer 18-rand-59-sent. Die JSE Africa All Share het gister met soveel as 2,3-persent geval. ‘n Ekonoom van Momentum Investments, Sanisha Packirisamy, sê indien die verkiesingsuitslag beteken die ANC moet ʼn groter koalisievennoot kry om die meerderheid te verseker, sal die rand langer swak bly.
En met net meer as 50-persent van die stemme getel, is die ANC nasionaal steeds voor met 42,34-persent. Die DA is tans tweede met 23,39-persent en die MK Party derde met 10,77-persent. In Gauteng loop die ANC voor met 32,21-persent, gevolg deur die DA met 29,31-persent en die EFF met 12,84-persent. In die erg betwiste KwaZulu-Natal is MK op 44,86-persent, die ANC tweede met 18,94-persent en die IVP op 17,42-persent. In die Wes-Kaap loop die DA voor met 54,63-persent van die stemme, gevolg deur die ANC met 18,83-persent en die Patriotic Alliance met 9,32-persent.
Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, sê intussen koalisiepraatjies is voortydig met partye wat wag op die finale verkiesingsuitslag. Sy glo as die ANC minder as 50-persent van die stemme kry, sal die party nooit herstel nie. Volgens Zille sal die DA nie toelaat dat Suid-Afrika regeer word deur ‘n koalisie van die ANC, EFF en MK-party nie, en wys op die uitdaging van saamwerking met kleiner partye. Sy is ook vol vertroue die DA sal beheer oor die Wes-Kaap behou:
# Verskeie bondgenote van Amerika moedig president Joe Biden aan om Oekraïne toe te laat om wapens wat deur die Weste verskaf is te gebruik om Russiese grondgebied aan te val. Dit volg nadat die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake Antony Blinken aan sy Navo-eweknieë gesê het sy land se beleid oor die kwessie het nie verander nie. Die Franse president Emmanuel Macron het dié week gesê Oekraïne moet toegelaat word om Westerse wapens te gebruik teen Russiese militêre persele, maar beslis nie op burgerlike teikens nie. Die Russiese president Vladimir Putin het vroeër gewaarsku oor ernstige gevolge, veral vir klein Europese lande.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Novak Djokovic, het die Spanjaard Roberto Carballes Baena met 6-4, 6-1 en 6-2 verslaan en deurgedring na die Franse Ope se derde ronde. Die Serwiër het die 19de agtereenvolgende keer die laaste 32 by die kleibaan- Grand Slam gehaal in sy strewe om die rekord met ʼn 25ste major-titel te verbeter. Die Italianer Lorenzo Musetti het die plaaslike Gael Monfils in skoon stelle geklop terwyl die Duitser Alexander Zverev en Holger Rune van Noorweë ook met seges spog. Djokovic sê hy glo hy kan nog Grand Slams wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-560-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-340-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….