Nuus 06:00
BULLETIN 30 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die verkiesingsuitslae begin drupsgewys inkom
# Die Verkiesingskommissie ondervind probleme met fopnuus op sosialemedia-platforms
# En BHP se aanbod vir Anglo American is vir eers van die baan
# Die eerste verkiesingsuitslae is net ná middernag bekendgemaak. Dit is afkomstig van die Mbizana Baptistekerk in die Madikizela-Mandela-munisipaliteit in die Oos-Kaap. Die ANC het 60,7-persent van die stemme ontvang, die EFF 17,8, die pasgestigte MK-party 10,4, die UDM 4,9 en die DA drie-persent. Sommige van die stemdistrikte in KwaZulu-Natal is deur die MK-party verower, insluitend Mooi Mpofana, waar hulle 52-persent van die stemme ontvang het, gevolg deur die ANC en die DA. Die voorsitter van die Verkiesingskommissie, Mosotho Moepya, sê die drie stembriewe het die telproses vertraag:
Die Verkiesingskommissie sê intussen hy het baie hulpbronne gebruik om fopnuus in die sosialemedia-ruimte te bestuur. ‘n Video van ʼn eNCA-insetsel van die negende van die maand, doen die ronde op sosiale media. Dit handel oor meningsopnames vóór die verkiesing en word gebruik om valslik te beweer die MK-party het 68-persent van die oorsese stemme gekry. Die OVK-hoof, Sy Mamabolo, sê hulle kon sommige inskrywings op sosiale media, veral op verskillende platforms, nie vinnig genoeg hanteer nie:
# Die BHP Groep sê hy gaan vir minstens die volgende ses maande nie ‘n amptelike aanbod vir Anglo American maak nie. Dit volg ná Anglo se verwerping van BHP se laaste versoek vir meer tyd om die aanbod van 900-miljard rand te bespreek. Anglo sê die struktuur van BHP se ooreenkoms was te ingewikkeld en hulle kon nie tot ‘n vergelyk kom nie. BHP se uitvoerende hoof, Mike Henry, sê hulle glo hul voorstel vir Anglo was ‘n ideale geleentheid vir albei om voordeel vir hul aandeelhouers te beding, maar hulle kon nie die knoop deurhaak nie.
# Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga het sy meegevoel uitgespreek na ‘n ongeluk Dinsdag op die R521 in Limpopo se Capricorn-distrik waarin twee bestuurders en elf passasiers dood is. Swak sig weens mis is vermoedelik die oorsaak. Die nasionale woordvoerder, Collen Msibi, sê die Padverkeersbestuurskorporasie gaan ondersoek instel na die oorsaak van die ongeluk. Msibi sê die minister doen ‘n beroep vir groter versigtigheid en waaksaamheid deur alle padgebruikers want padveiligheid is almal se verantwoordelikheid.
# Die Chinese president Xi Jinping het aan sy Egiptiese eweknie gesê hy betreur die ernstige toestand in Gaza. China is die week gasheer vir die Egiptiese president Abdel Fattah al-Sisi en verskeie ander Arabiese leiers in Bejing. Die samesprekings is gemik op groter konsensus tussen Beijing en Arabiese state. Egipte, saam met Katar en Amerika, is maande lank reeds in gesprek om blywende vrede tussen Israel en Hamas te bewerkstellig, met die vrylating van gyselaars wat deur Palestynse militante groepe ontvoer is, as deel van die ooreenkoms.
# Rugby: Die Bulle-vleuel Sebastian de Klerk sê hulle beplan om Saterdag ‘n omvattende Verenigde Rugbykampioenskap-stryd teen die Haaie te voer. In die laaste ronde van die VRK sal die Bulle graag die stryd om die Suid-Afrikaanse Skild wil wen, en onder die top-twee op die VRK-punteleer eindig. Die span van Pretoria het altesaam 69 punte afgestaan in die laaste twee wedstryde teen Glasgow Warriors en Benetton, maar De Klerk sê hulle is tevrede met hul verdediging dié seisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-461-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-335-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….