Nuus 17:00
BULLETIN 29 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie verwag die stempersentasie gaan hoër as 66-persent wees, en hoër as dié van 2019
# Grondgevegte en bomaanvalle skud Rafah
# En, motorsport: Die Indiese MotoGP word gekanselleer, en deur Kazakhstan vervang
# Die Verkiesingskommissie beraam vandag se stempersentasie gaan meer as 66-persent wees, wat hoër is as die persentasie in 2019. Die adjunk-hoofverkiesingsbeampte, Masego Sheburi, het dit tydens ‘n media-inligtingsessie by die uitslagsentrum in Midrand beklemtoon. Meer as 200-duisend mense is in diens geneem om die verkiesing te fasiliteer, met kartonstembusse wat vir hulle omgewingsvoordele gekies is. Sheburi beklemtoon die belangrikheid om alle kiesers met waardigheid te hanteer:
Intussen waarsku die kommissie kiesers om nie te probeer om die onuitwisbare inkmerk op hulle duime te verwyder nie. Sheburi benadruk dit is ‘n sleutelsekuriteitsmaatreël in die verkiesingsproses. Enige poging om die ink te verwyder óf die integriteit van die verkiesing te ondermyn, word as verkiesingsbedrog beskou en kan tronkstraf van tot tien jaar tot gevolg hê. Sheburi herinner kiesers daaraan dat die inkmerk noodsaaklik is om die integriteit van die verkiesing te handhaaf:
# Grondgevegte en bomaanvalle deur Israel het Gaza se mees suidelike stad, Rafah geruk, ‘n dag nadat Israelse tenks die middestad van dié stad naby die Egiptiese grens, binnegeval het. Die weermag het voortgegaan met sy offensief teen Hamas, ondanks ‘n wêreldwye oproep wat verskerp het na ‘n dodelike aanval wat ‘n stampvol kamp Sondagaand in ‘n vlammehel verander het. Die VN-Veiligheidsraad sou vandag vir ‘n tweede dag van noodgesprekke in New York vergader, nadat Sondag se aanval en vernietigende brand, volgens amptenare, 45 mense dood en ongeveer 250 beseer gelaat het.
# Motorsport: Die Indiese MotoGP wat in September gehou sou word, is gekanselleer en gaan deur Kazahkstan vervang word. Die organiseerders het bekendgemaak die wedren in Indië is geskrap weens operasionele oorwegings, maar sal vroeg in die 2025-seisoen terugkeer. Kazakhstan se beplande MotoGP volgende maand is uitgestel weens verwoestende oorstromings in die land, maar sal nou op 22 September gehou word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-748-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-344-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-11-sent per vat.
# En ons sluit af met nóg ‘n brokkie verkiesingsnuus: Die meeste van die land se mense is besig om te stem en daar is niks so goed soos ‘n gratis oliebol en koffie van bekende restaurante om jou vir jou patriotisme te bedank nie. Wimpy en Spur bied gratis koffee aan wat hulle “koalisiekoppies” noem, met Mugg & Bean wat gratis Americanos uitdeel en sê demokrasie smaak nou verruklik. Krispy Kreme verskaf ‘n oorspronklike versuikerde oliebol aan mense wie se duime met ink gemerk is, terwyl ‘n Meksikaanse restaurant in Bryanston ‘n gratis skeut tequila aanbied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….