Nuus 16:00
BULLETIN 29 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK kondig vertragings aan by sommige stemlokale weens laat materiaalaflewering en betogings
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, verseker Suid-Afrikaners die NGV sal vóór implementering getoets word
# En, krieket: Die jong Afghaanse span wil opwinding verseker by die T20-Wêreldbeker
# Die Verkiesingskommissie het vertragings aangekondig by sommige stemlokale weens laat aflewering van materiaal, stadiger begeleiding deur veiligheidsdienste en betogings deur gemeenskapslede. Die kommissie sê in weerwil van dié probleme het 93-persent van die stemlokale betyds geopen, en die oorblywende lokale kort daarna. Die adjunk-hoofverkiesingsbeampte, Masego Sheburi, verseker kiesers alle nodige materiaal is beskikbaar en vra vir geduld:
Intussen sê die EFF-leier Julius Malema hy is vol vertroue dat Suid-Afrika se verkiesing vry en regverdig sal wees. Malema, wat in Seshego, in Limpopo gestem het, het die Verkiesingskommissie se voorbereiding geprys. Hy doen ook ‘n beroep op kiesers, veral die jeug en mense wat die eerste keer aan ‘n verkiesing deelneem, om te stem vir verandering, teen korrupsie en misdaad, vir werkskepping en ‘n regering wat die beste aan die land se mense lewer:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het Suid-Afrikaners verseker dat die Nasionale Gesondheidsversekering deeglik getoets sal word voor implementering. Hy het kommer oor die koste daarvan besweer en gesê die regering sal vooraf verseker dat alles gereed en in plek is. Hy sê die verkryging en uitkontraktering van dienste vir die NGV sal gebaseer word op die bevindings van sy toetsprojekte:
# Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, het die Verenigde Nasies sterk veroordeel en doen ‘n beroep op die Islamitiese wêreld om op te tree na die jongste dodelike Israelse aanvalle in Gaza. Hy het aan ondersteuners gesê die VN kan nie eers sy eie personeel beskerm nie en die gees van die organisasie in Gaza is dood. Die Turkse leier het ook state waar Moslem-regerings aan die bewind is gekritiseer vir hulle versuim om gesamentlik teen die aanvalle op te tree.
# Krieket: ‘n Jong Afghaanse span met ‘n gemiddelde ouderdom van slegs 25 het beloof hulle gaan hulle ondersteuners by die huis verras by die 2024 T20 Wêreldbeker. Amerika en Wes-Indië is die gesamentlike gashere. Ondanks jare lange oorloë en armoede het Afghaanse krieket sterker geword met nuwe afrigtings-akademies, borgskapooreenkomste en toernooifinansiering. Hulle eerste wedstryd is op 4 Junie in Guyana teen Oeganda, wat in hulle eerste Twintig20 Wêreldbeker ooit speel en dit beskryf as ‘n droom wat waar geword het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-714-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-342-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….