Nuus 15:00
BULLETIN 29 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die leier van ActionSA doen ‘n oproep op alle Suid-Afrikaners om te stem vir die herstel van die oppergesag van die reg
# Die Demokratiese Republiek die Kongo wys ‘n nuwe regering aan
# En, krieket: Australië gebruik ondersteuningspersoneel in sy span maar klop Namibië nog steeds
# ActionSA se leier, Herman Mashaba, doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om in groot getalle te stem vir verandering wat die lewens van mense sal verbeter, die oppergesag van die reg sal herstel en miljoene nuwe werksgeleenthede sal skep. Mashaba het by die Sandtonse Brandweerstasie in Johannesburg gestem. Hy sê tensy Suid-Afrikaners dapper genoeg is om vandag vir ‘n geloofwaardige alternatief te stem, sal hulle weer met dieselfde ou leiers sit:
# Die GOOD-party sê die dood van 45 burgerlikes in ‘n vlugtelingkamp in Rafah, Gaza, deur die Israelse weermag beklemtoon die noodsaaklikheid van Suid-Afrika se beginselvaste standpunt om Israel aanspreeklik te hou. Israel se weermag sê die aanval het twee senior Hamas-ampenare in die visier gehad en hulle is gedood. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die wêreld benodig ware en blywende vrede in die gebied wat in geregtigheid vir Palestyne gewortel is:
# Die Demokratiese Republiek die Kongo het ‘n nuwe regering aangekondig, en só meer as vyf maande van diepe onsekerheid beëindig. Vandag se aankondiging het gevolg op president Felix Tshisekedi se herverkiesing in Desember. Aljazeera berig die land se minister van Verdediging, Guy Kabombo Muadiamvita, sal ‘n deurslaggewende rol speel, teen die agtergrond van die staatsgreeppoging tien dae gelede en die konflik wat woed tussen die Kongolese weermag en Rwanda-gesteunde M23-rebelle in die mineraalryke ooste van die land.
# Krieket: Australië, met ‘n tekort aan spelers, het ‘n nasionale keurder en ondersteuningspersoneel gevra om sy span vol te maak in ‘n T20-opwarmingswedstryd teen Namibië wat hulle steeds gemaklik met sewe paaltjies gewen het. Die veteraan-openingskolwer, David Warner, het gister die voortou in Trinidad geneem met 54 lopies van 21 balle. Ondanks die gebruik van vier ondersteuningspersoneel as plaasvervanger-veldwerkers, het Australië die Namibiërs steeds tot 119 vir 9 op die Queenspark Oval in Port of Spain beperk.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-837-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-342-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-47-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging doen ‘n beroep op kiesers om sosiale afstande te handhaaf, maskers te dra en hulle hande te was wanneer hulle gaan stem. Dit volg na ‘n waarskuwing deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes oor verskeie griepvirusse wat die ronde doen aan die begin van die griepseisoen. Miljoene mense stem vandag wat die verspreiding van virusse aansienlik verhoog. Mvuyisi Mzukwa van die vereniging stel voor mense moet hulle laat inent vir beskerming teen griep:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….