Nuus 14:00
BULLETIN 29 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa spreek sy vertroue uit vir ‘n ANC-meerderheid met Suid-Afrikaners wat vandag stem
# Beleggers word gemaan om nie paniekerig te raak oor die impak van die verkiesing op die ekonomie nie
# En, krieket: Australië sluit ondersteuningspersoneel by sy span in maar klop Namibië nog steeds
# President Cyril Ramaphosa sê hy is vol vertroue die mense van Suid-Afrika sal die ANC ‘n sterk meerderheid gee in vandag se verkiesing. Hy meen daar is geen twyfel oor die uitslag nie, en loof die ANC se uitgebreide veldtog. Ramaphosa het die party se verbintenis tot ‘n skoon verkiesingsveldtog beklemtoon, nadat hy sy stem uitgebring het by Chiawelo in Soweto. Hy benadruk ook demokrasie sal uiteindelik die wenner wees:
Intussen vra die regering alle Suid-Afrikaners, veral jongmense en kiesers wat vanjaar die eerste keer stem, om hul demokratiese reg uit te oefen en hul kruisies te gaan trek. Die regering het die onwettige betogings in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap ten sterkste veroordeel. In Keiskammahoek het inwoners vroeër vandag die pad afgesper en oor grond-geskille betoog, en geweier om te gaan stem. Regeringswoordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê burgers word versoek om verdraagsaamheid te toon deur mekaar se stemreg te respekteer en die land se demokratiese beginsels te handhaaf:
In nóg verkiesingsnuus, word beleggers gemaan om nie paniekerig te raak nie ondanks kommer oor die impak van die verkiesing op die ekonomie. Markkenners voorspel groter onsekerheid met die moontlikheid van koalisiepolitiek. Hulle verwag die ANC gaan 45- tot 47-persent van die stemme kry, wat voortgesette beleggersversigtigheid beteken. Beleggers verwag beleidsonsekerheid te midde van die vorming van koalisies ondanks menings dat kleiner partye nie ekonomiese beleidsrigtings noemenswaardig sal verander nie. Die ekonoom Dawie Roodt waarsku oor skade aan die ekonomie as die ANC die mag behou sonder om kwessies te takel.
# Die Britse polisie het 40 mense gearresteer en drie beamptes is beseer na betogers geweier het om uitmekaar te gaan ná ‘n betoging in Londen oor Israel se jongste aanval in Gaza. Die Metropolitaanse Polisiediens sê die individue is laat gister in hegtenis geneem vir onder meer die verbreking van openbare orde, die vesperring van paaie en aanranding op noodwerkers. Twee beamptes is lig beseer, terwyl ‘n derde ‘n ernstige gesigsbesering opgedoen het toe hy deur ‘n bottel getref is wat uit ‘n skare gegooi is.
# Krieket: Australië, met ‘n tekort aan spelers, het ‘n nasionale keurder en ondersteuningspersoneel gevra om sy span vol te maak in ‘n T20-opwarmingswedstryd teen Namibië wat hulle steeds gemaklik met sewe paaltjies gewen het. Die veteraan-openingskolwer, David Warner, het gister die voortou in Trinidad geneem met 54 lopies van 21 balle. Ondanks die gebruik van vier ondersteuningspersoneel as plaasvervanger-veldwerkers, het Australië die Namibiërs steeds tot 119 vir 9 op die Queenspark Oval in Port of Spain beperk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-838-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-345-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….