Nuus 13:00
BULLETIN 29 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa spreek sy kommer uit oor voorvalle van inmenging met die werk van die Verkiesingskommissie
# Tennis: Osaka hoop om Swiatek in die Franse Ope te ontsetel
# En, ‘n Amerikaanse miljardêr beplan ‘n dompelduikboot-ekspedisie na die wrak van die Titanic
# President Cyril Ramaphosa het sy kommer uitgespreek oor pogings om in te meng met die werk van die Verkiesingskommissie. Twee mense is in KwaZulu-Natal en Mpumalanga gearresteer vir die inmenging by stembusse. Diie OVK ondersoek nog sake. Ramaphosa het sy stem in Chiawelo in Soweto uitgebring. Hy sê burgers moenie gekeer word om te stem nie want dit is hulle demokratiese reg:
Die DA-leier, John Steenhuisen, het Suid-Afrikaners intussen gevra om in groot getalle te stem vir verandering. Steenhuisen het in Durban met die media gepraat nadat hy sy stem uitgebring het. Hy het beklemtoon die 2024-verkiesing is deurslaggewend om die ANC uit die kussings te lig en nuwe leierskap te verseker. Steenhuisen het ook die noodsaaklikheid van ‘n koalisieregering benadruk om korrupte leiers te verwyder:
Die minister van Polisie, Bheki Cele, het vroeër gesê die polisie sal met die hulp van twee-duisend-828 lede van die Nasionale Weermag, stembriewe na finale telpunte begelei. Cele het die media ingelig oor die landwye situasie rondom verkiesingsveiligheid, en het by die Hoërskool Lamontville in Durban, KwaZulu-Natal gestem. Hy sê die polisie is op volle gereedheid om die verkiesing te beskerm:
# Tennis: Naomi Osaka, wat nog nooit verder as die derde ronde van die Franse Ope kon vorder nie, sê sy is baie opgewonde om vandag in die tweede ronde teen die gunsteling, Iga Swiatek van Pole, te staan te kom. Osaka, ‘n gewese nommer een speler, het die eerste maal sedert 2022 ‘n Grand Slam-wedstryd gewen toe sy Lucia Bonzetti geklop het. Die Japannese ster het vroeër vanjaar na die tennisbaan teruggekeer ná ‘n ruskans van 16 maande waartydens sy ‘n baba gehad het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-721-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-234-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-58-sent per vat.
# En, laastens: ‘n Amerikaanse eiendomsmagnaat en diepsee-ontdekker beplan ‘n dompelduikbootvaart na die wrak van die Titanic. Die miljardêr en avonturier van Ohio, Larry Connor, en die medestigter van Triton-duikbote, Patrick Lahey, sê hulle wil sowat drie-duisend-800-meter in die Noordelike Atlantiese Oseaan afdaal. Vyf mense is verlede jaar dood is toe nog ‘n dompelduikboot, die OceanGate, verlede jaar onderweg na die Titanic ingeplof het. Die datum vir die beplande ekspedisie is nog nie bekend nie
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….