Nuus 12:00
BULLETIN 29 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie in Gauteng ontplooi tien multidissiplinêre verkenningshelikopters
# Minister Modise moedig die jeug aan om aktief deel te neem aan vandag se verkiesing
# En, die Verkiesingskommissie in die Wes-Kaap waarsku mense om nie op die nippertjie te gaan stem nie
# Gauteng se provinsiale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur het tien multidissiplinêre verkenningshelikopters en hommeltuie ontplooi. Dit is gedoen om toe te sien dat inwoners hul stemme in ‘n veilige omgewing kan uitbring. Veiligheidsbeamptes is ook op die grond ontplooi om die polisie by te staan. Die struktuur sê niemand met ‘n gevaarlike wapen, insluitend ‘n vuurwapen, sal in ‘n stemlokaal toegelaat word nie.
Intussen moedig die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Thandi Modise, jongmense aan om aktief deel te neem aan vandag se verkiesing. Sy het gister ‘n spesiale stem Mahikeng, Noordwes, uitgebring. Sy sê die verkiesing is ʼn belangrike manier om die regering aanspreeklik te hou. Modise het beklemtoon kiesers se gebrek aan belangstelling kan die land se vordering kniehalter en het die jeug aangemoedig om hul stemme te gebruik om die nasie se toekoms te vorm:
# Die Withuis sê Israel se onlangse operasies en aanvalle in die suidelike stad Rafah in Gaza is nie groot operasies op land wat enige Amerikaanse gevaarlyne oorskry nie. Dit volg nadat 45 Palestyne, wat volgens berigte vroue en kinders insluit, Sondag in ʼn Israelse aanval op ʼn kamp vir ontheemdes dood is. Die woordvoerder van Amerika se Nasionale Veiligheidsraad, John Kirby, sê Amerika ignoreer nie die lot van Palestynse burgerlikes nie:
# Motorsport: FIA-president Mohammed Ben Sulayem het voorgestel dat Andretti probeer om een van Formule Een se bestaande spanne te koop eerder as om hul eie span te stig. Die handelsregtehouers, Liberty Media, het Andretti se bod om in 2025 of 2026 by F1 aan te sluit, verwerp. Andretti gaan voort met hulle planne om in hul eie reg deel te neem en het onlangs hul eie basis in die Verenigde Koninkryk by Silverstone geopen. Sulayem sê dit gaan nie oor die aantal spanne nie, maar die gehalte op die baan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-866-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-347-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-46-sent per vat.
# En, laastens, nóg verskiesingsnuus: Die Verkiesingskommissie in die Wes-Kaap raai kiesers aan om nie tot op die nippertjie te wag om te gaan stem nie. Stemlokale bly tot negeuur vanaand oop en almal wat op daardie stadium in die ry staan, sal kan stem. Die provinsiale verkiesingshoof, Michael Hendrickse, sê die meeste kiesers daag van laat-oggend tot vroeg-middag op, en planne is gereed om laatkommers te hanteer. Hendrickse het ook bevestig daar is voldoende polisiëring by brandpunte en konflikbemiddelaars sal ontplooi word indien nodig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….