Nuus 07:00
BULLETIN 29 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Verkiesingslokale landswyd het sopas geopen
# Die Verkiesingskommissie veroordeel inmenging in die verkiesing
# En 29 mense is dood in twee afsonderlike Israelse aanvalle in Rafah
# Stemlokale het amptelik geopen met miljoene Suid-Afrikaners wat vandag hul stemme gaan uitbring in wat as een van die belangrikste verkiesings bestempel word. Die Verkiesingskommissie sê die lesse en ervarings die afgelope twee dae waartydens spesiale stemme uitgebring is, was waardevol en sal bydra om bedrywighede vandag makliker te maak. Stemlokale sluit om nege vanaand. Die OVK se hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo sê kiesers mag nie ʼn foto van hul eie gemerkte stembrief neem nie:
Die kommissie sê intussen twee mense is gearresteer en minstens twee gevalle van inmengery by verkiesingsmateriaal en kiesprosesse word ondersoek. Die polisie in Mpumalanga ondersoek twee voorvalle waar ʼn groep mense OVK-beamptes gekonfronteer het. Volgens berigte het onbekende mense Maandag ná die eerste dag se stemproses in twee afsonderlike voorvalle geëis dat OVK-personeel die stembusse oorhandig. Mamabolo, sê die stemme se integriteit het nie in gedrang gekom nie:
# Business Leadership South Africa maan teen moontlike chaos en ondoeltreffende regering wat uit koalisiepolitiek kan voortvloei. Volgens News24 waarsku die organisasie die sakesektor sal steun aan die regering onttrek indien ‘n nuwe koalisie nasionalisering en verhoogde belastings voorstaan. Dit volg op gissinge oor ‘n moontlike ANC-EFF-koalisie. Die uitvoerende hoof van die organisasie, Busisiwe Mavuso, is bevrees koalisiebeleid kan tydens onderhandelings groei kniehalter en korrupsie laat gedy. Mavuso het ook president Cyril Ramaphosa gekritiseer omdat hy voor die verkiesing die Nasionale Gesondheidsversekering afgeteken het.
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het suksesvolle welsynsorganisasies verseker hulle subsidies vir die 2024/2025 finansiële jaar is op pad en binnekort afgehandel. Lesufi se woordvoerder, Sizwe Pamla, sê ‘n regsaksie het die afgespreekte betalingsproses vertraag. Pamla bevestig die provinsiale regering sal die bestaande Diensvlakooreenkomste vir 2023/2024 as ‘n tydelike maatreël vir die eerste twee kwartale toepas. Hy hou vol voldoening aan finansiële bestuurstandaarde bly ‘n voorvereiste vir befondsing.
# Minstens 29 Palestyne is gister dood in twee afsonderlike Israelse aanvalle wat kampe vir ontheemdes in Rafah, Gaza, getref het. Gaza se Ministerie van Gesondheid sê die eerste aanval het drie tente in die Tal al-Sultan-kamp getref en agt mense is dood. In die tweede aanval in die suidelike kusdorp, Al-Mawasi, is 21 mense waaronder 13 vroue dood. Dit volg nadat 45 mense, waaronder vroue en kinders, Sondag in ʼn aanval in Rafah dood is. Israel hou vol ʼn oorwinning in sy stryd teen Hamas is onmoontlik sonder om Rafah in te neem.
# Rugby: Die Leeus moet die Stormers in hulle laaste wedstryd klop om die eerste keer vir die kwarteindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap te kwalifiseer. Daar bly nog net een ronde in die groepfase oor met agt spanne wat vir die uitspeelrondes kwalifiseer. Die Leeus is tans in die negende plek op die punteleer en verdedigingsafrigter, Jacque Fourie, sê hulle besef dis ‘n moet-wen-wedstryd Saterdag in Kaapstad:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-468-dollar-82-sent. Die prys van goud is twee-duisend-357-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….