Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Mei 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Bulle staan ‘n kans op boaan die Verenigde Rugbykampioenskaps-punteleer te eindig as hulle die Haaie in Saterdag se finale groepswedstryd in Durban klop. Die span van Pretoria lê tans tweede, twee punte agter Munster. As Ulster vir Munster ore aansit, sal die Bulle eerste wees met ‘n oorwinning oor die Haaie, en sodoende tuiswedstryde inpalm in al hulle uitklopwedstryde. Die Stormers is tans vyfde op die punteleer na Leinster en Glasgow Warriors.
# Vervolgens, krieket: Gautengse liefhebbers van die spel sal met ‘n aanhangerspark op die Wanderers in Johannesburg bederf word tydens die T20-Wêreldbekertoernooi in die Karibbiese Eilande en Amerika. Hulle sal Maandag die Proteas se wedstryd teen Sri Lanka kan dophou, asook die kragmeting tussen Indië en Pakistan op die negende van volgende maand. Die wedstryde sal gewys word op ‘n reuseskerm, en daar sal ook ‘n gesins-piekniekgebied, koswaens en bedrywighede wees. Die toernooi skop Saterdag af.
Ons bly by krieket: Engeland se kaptein, Jos Buttler, sal nie vandag in Cardiff, Wallis, in die derde T20-kragmeting teen Pakistan speel nie. Hy is met vaderskapsverlof vir die geboorte van sy derde kind. Moeen Ali sal die span lei, met Jonny Bairstow of Phil Salt as paaltjiewagter. Engeland het die tweede wedstryd gewen nadat die eerste een weens reën afgelas is. Die laaste wedstryd vind Donderdag plaas. Die reeks dien as voorbereiding vir die T20-Wêreldbekertoernooi wat Saterdag in die Karibiese Elande en Amerika begin.
# Ons maak ‘n draai in die kuipe by motorsport: Alpine Formule Een se hoof, Bruno Famin, oorweeg volgens berigte om Esteban Ocon te onttrek aan volgende naweek se Kanadese Grand Prix. Dit volg nadat Ocon teen sy spanmaat Pierre Gasly gebots het in die eerste ronde van die Monaco Grand Prix. Ocon het nie verder gejaag tydens die rooivlag-tydperk nie, maar Gasly het voortgegaan en tiende geëindig om sy eerste punt van die seisoen te verdien. Baanbeamptes het Ocon met vyf plekke op die wegspringrooster gestraf vir die Kanadese Grand Prix. Famin sê hulle sal ‘n moeilike besluit moet neem.
# En ons sluit af met tennis: Die 14-malige kampioen, Rafael Nadal, is in die eerste ronde van die Franse Ope uitgeskakel. Die Spanjaard het in skoon stelle teen die vierde gekeurde Duitser, Alexander Zverev, verloor. Dis slegs sy vierde nederlaag in 116 enkelspelwedstryde op Roland Garros. Daniil Medvedev van Rusland het Dominik Koepfer van Duitsland geklop. Die plaaslike gunsteling, Gael Monfils, en die Italianer Lorenzo Musetti het ook gewen. Nadal sê hy is onseker of dit sy laaste wedstryd op die Franse Ope was:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….