Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SA Sionistiese Federasie veroordeel Ramaphosa se uitspraak teen Israel
# Cosatu sê alle werkers moet hul grondwetlike reg om te stem kan uitoefen
# En, krieket: ‘n Aanhangerspark word op die Wanderers aangebied tydens die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die Suid-Afrikaanse Sionistiese Federasie kritiseer president Cyril Ramaphosa se beroep vir die uitwissing van Israel en noem dit skandelik. Die woordvoerder, Rolene Marks, veroordeel Ramaphosa se gebruik van die slagspreuk “From the River to the Sea, Palestine will be free” tydens ‘n verkiesingsaamtrek, en vertolk dit as ‘n oproep om Israel se vernietiging en etniese suiwering. Mark sê dit is ongekend vir Ramaphosa om volksmoord-voornemens uit te spreek en maak melding van moontlike regsoptrede vir wat sy haatspraak noem, weens oortreding van die Grondwet.
# Cosatu doen ‘n dringende beroep op alle nie-noodsaaklike sakeondernemings om hul werkplekke op stemdag te sluit sodat alle werkers hul grondwetlike reg om te stem kan uitoefen. Vandag is die tweede dag waarop spesiale stemme uitgebring kan word voor stemdag. Matthew Parks van Cosatu sê enige werker wie se reg om te stem deur sy werkgewer bedreig word, moet dit by die polisie of die vakbondfederasie aanmeld:
Verkiesingsbeamptes in die Wes-Kaap gaan intussen 51-duisend tuisbesoeke doen sodat mense spesiale stemme kan uitbring. Die OVK het byna 136-duisend aansoeke in die provinsie ontvang vir spesiale stemme. Die DA se federale voorsitter, Helen Zille, het ook reeds haar kruisie getrek en sê sy is vol vertroue haar party sal beheer behou in die provinsie:
# Krieket: Gautengse liefhebbers van die spel sal met ‘n aanhangerspark op die Wanderers in Johannesburg bederf word tydens die T20-Wêreldbekertoernooi in die Karibbiese Eilande en Amerika. Hulle sal Maandag die Proteas se wedstryd teen Sri Lanka kan dophou, asook die kragmeting tussen Indië en Pakistan op die negende van volgende maand. Die wedstryde sal gewys word op ‘n reuseskerm, en daar sal ook ‘n gesins-piekniekgebied, koswaens en bedrywighede wees. Die toernooi skop Saterdag af.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-887-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-341-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-2-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit van die Vrystaat oorhandig volgende week ʼn ere-doktorsgraad in Opvoedkunde aan die gewese adjunkpresident, Phumzile Mlambo-Ngcuka. Sy word vereer vir haar aansienlike bydrae tot openbare diens, haar toewyding aan onderwys, en uitsonderlike leierskapsrolle wat sy nasionaal en internasionaal vervul het. Mlambo-Ngcuka het verskeie ere-doktorsgrade ontvang van Suid-Afrikaanse instellings vir hoër onderwys, asook die Universiteit van Edinburgh in Skotland.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….