Nuus 11:00
BULLETIN 28 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasse-aangeleenthede glo ‘n ANC/EFF-koalisie sal ‘n radikale agenda nastreef
# Gautengse organisasies sonder winsoogmerk dreig weer met regstappe oor befondsing
# En krieket: Daar sal ‘n ondersteunerspark op die Wanderers wees tydens die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die Instituut vir Rasse-aangeleenthede sê daar kan met redelikheid aanvaar word ‘n ANC/EFF-koalisieregering ná die verkiesing gaan ʼn radikale agenda volg. Die EFF het verklaar ʼn koalisie met die ANC sal berus op drie ononderhandelbare beleidsartikels, naamlik grondonteiening sonder vergoeding, gratis onderwys en die nasionalisering van myne. Terence Corrigan van die instituut sê ʼn regsraamwerk moet ingestel word om koalisie-ooreenkomste te bevorder:
# AfriForum het bevestig sy 134 waarnemers en 170 buurtwagte is gereed vir die verkiesingstydperk. Die woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, sê hulle sal stemlokale fyn dophou en op ‘n hoë gereedheidsgrondslag bly vir moontlike geweld. Hy sê AfriForum se lugvleuel, met meer as 40 hommeltuie, is ook op bystand om regstreekse inligting in te samel en verdagtes op te spoor:
# Die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het nog nie al die organisasies sonder winsoogmerk betaal waarmee hy ooreenkomste aangegaan het nie. Die Hooggeregshof in Johannesburg het die departement beveel om teen verlede week Vrydag die aansoeke af te handel wat in November verlede jaar ingedien is. Premier Panyaza Lesufi het op die 14de van die maand tydens ʼn vergadering met die organisasies beloof hulle sal die subsidies teen verlede week Vrydag ontvang. Die organisasies dreig nou om ‘n tweede keer die hof te vra om die departement te dwing om te betaal.
# Die Internasionale Organisasie vir Migrasie sê reddingswerkers het met talle uitdagings te kampe terwyl hulle liggame herwin ná Vrydag se dodelike grondstorting in Papoea-Nieu-Guinee in die Stille Oseaan-gebied. Meer as twee-duisend mense is lewendig begrawe en groot skade is aan infrastruktuur aangerig. ʼn Woordvoerder van die organisasie, Serhan Aktoprak, sê rotse val steeds teen die berg af, die grond kraak en water vloei onder die puin, wat die soek- en reddingspoging bemoeilik:
# Krieket: Gautengse liefhebbers van die spel sal met ‘n aanhangerspark op die Wanderers in Johannesburg bederf word tydens die T20-Wêreldbekertoernooi in die Karibbiese Eilande en Amerika. Hulle sal Maandag die Proteas se wedstryd teen Sri Lanka kan dophou, asook die kragmeting tussen Indië en Pakistan op die negende van volgende maand. Die wedstryde sal gewys word op ‘n reuseskerm, en daar sal ook ‘n gesins-piekniekgebied, koswaens en bedrywighede wees. Die toernooi skop Saterdag af.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-750-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-343-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….