Eko-minuut 13:30
BULLETIN 27 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Navorsing toon goudmyne in Johannesburg laat reeds 140 jaar lank afvalwater uitlek wat met swaar metale besmet is. Die suur-dreinering uit Johannesburg se sowat 278 verlate myne en 200 mynhope sluit uraan, koper, nikkel en sink in. Dit lei daartoe dat 1,9-miljoen inwoners van Soweto aan suurmyn-dreinering blootgestel word. Die skrywers van die navorsingstuk sê ernstige blootstelling aan hierdie swaar metale kan lei tot geboorte-afwykings, breinskade, kanker en miskrame.
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid sê boere moet aan arbeidswetgewing voldoen om die hoë koste te vermy van voorvalle en werksiektes, wat vererger word deur klimaatsverandering. Inspeksies by 52 landbouwerkplekke het bevind 30 van hulle het nie voldoen nie. Die meeste werkgewers kon nie voorvalrekords voorsien nie, ondersoek nie voorvalle nie, het nie ‘n noodhulp-opgeleide persoon nie, lei nie trekkerbestuurders op nie en doen nie risiko-ontledings nie. Woordvoerder Warren Mallon moedig werkgewers aan om risiko-beoordeling te hersien, met inagneming van nuwe of bestaande gevare, wat vererger kan word.
# En, die Wes-Kaapse regering het sonkrag-stelsels by 48 skole opgerig om leer en onderrig tydens verwagte kragonderbrekings moontlik te maak. LED-ligte is aangebring om kraggebruik en koste te verminder. Nog 71 skole het aansoek gedoen vir sonkragstelsels om die druk op die kragnetwerk te verminder. Die provinsiale regering het 71 beurtkrag-stelle uitgedeel. Dit sluit sonkrag-laaistasies en -ligte in wat voorkeur gee aan graad 12-leerders wat hul eindeksamen moet skryf, asook graad een-leerders wat elke dag hul leesvaardigheid moet oefen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….