Nuus 12:00
BULLETIN 27 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party soek duidelikheid oor ‘n skenking van 500-duisend-rand
# Oproepe vir ‘n onmiddellike skietstilstand word herhaal nadat Israel in Rafah toeslaan
# En, tennis: Nadal het ‘n gedugte teenstander in die eerste ronde van die Franse Ope verwag
# Die GOOD-party sê hy het die organisasie We Are The People gevra om duidelikheid te verskaf oor verlede maand se skenking van 500-duisend-rand aan die party. GOOD het die skenking aanvaar en aan die Verkiesingskommissie verklaar, maar onlangse nuusberigte het kommer uitgespreek oor die integriteit van die transaksie. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê byna 94-persent van geld wat die organisasie aan politieke partye geskenk het, het na slegs een party gegaan, wat daarop dui dat dit ‘n onverklaarde befondsingsvoertuig vir daardie party is:
Intussen sê die Noord-Kaapse polisiekommissaris, Koliswa Otola, die provinsie se Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur, die Weermag en die Staatsveiligheidsagentskap is vol vertroue die provinsie is gereed om toesig te hou oor Woensdag se verkiesing. ‘n Polisiewoordvoerder, Mashay Gamieldien, sê gemeenskappe is gewaarsku om hulle te weerhou van opsetlike beskadiging en die skending en verwydering van politieke plakkate, want dit is ‘n oortreding:
# Dokters Sonder Grense het sy oproep herhaal vir ‘n onmiddellike en volgehoue skietstilstand in Gaza. Dit volg nadat minstens 35 mense gister dood is toe Israel op ʼn kamp vir vlugtelinge in Rafah toegeslaan het. Die Israelse Weermag sê hy het ʼn Hamas-vesting in die gebied aangeval en twee senior ampsdraers van die militantegroep is dood. Hy sê hy sal berigte nagaan wat beweer burgerlikes is dood tydens die voorval. Dokters Sonder Grense sê die aanval bewys weer dis nêrens veilig in Gaza nie.
# Tennis: Die veertienmalige kampioen,Rafael Nadal, sê hy sien uit daarna om vandag kragte te meet met Alexander Zverev van Duitsland in die eerste ronde van die Franse Ope. Die Spanjaard het sedert Januarie verlede jaar slegs aan vier toernooie deelgeneem na hy ‘n heupbesering opgedoen en toe ‘n spier geskeur het. Dit het hom ongekeur gelaat vir die tweede Grand Slam van vanjaar. Nadal sê hy het ‘n gedugte teenstander in die openingsronde verwag:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-753-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-341-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-21-sent per vat.
# En, Suid-Afrika se voorste komedie-verskeidenheidskonsert, die Kaapstadse Komediefees, keer volgende maand terug na die Baxter-teater vir sy 25ste herdenking. Van die kunstenaars wat gaan optree is die Kanadese super poppespelspelers, Caberet Decadanse, ‘n Britain’s Got Talent-finalis, Graeme Matthews, en plaaslike komediante soos Carl Weber en Ismail Moses. Een van die unieke glanspunte van die fees is die verskillende verskeidenheidsoptredes, waarvan drie vanjaar aangebied word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….