Nuus 08:00
BULLETIN 27 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa doen ‘n beroep op partye om nie in te meng in die verkiesingsproses nie
# Die Verkiesingskommissie is gereed vir die 1,6-miljoen Suid-Afrikaners wat hul spesiale stemme gaan uitbring
# En ondersoek word ingestel ná die ontdekking van ‘n hand in die puin van die ingetuimelde gebou in George
# President Cyril Ramaphosa het kommer uitgespreek oor berigte dat daar by verkiesingsaktiwiteite ingemeng word. Dit sluit in die onwettige betreding van die Verkiesingskommissie se bergplekke in KwaZulu-Natal en Mpumalanga. MK-partylede het video’s rondgestuur van bedrywighede by OVK-bergplekke in Chesterville, KwaZulu-Natal, en Hammarsdale in Mpumalanga. Hulle beweer dis ‘n poging om die algemene verkiesing te manipuleer. Die OVK verwerp die bewerings. Ramaphosa sê mense moet die verkiesingsproses respekteer:
# Die Verkiesingskommissie sê hy is gereed vir die spesiale stemme wat vandag en môre, voor Verkiesingsdag op Woensdag, uitgebring word. Meer as 1,6-miljoen Suid-Afrikaners het goedkeuring vir spesiale stemme ontvang. OVK-personeel sal 624-duisend-593 kiesers besoek terwyl die res hulle kruisies tussen nege en vyf by hul stemlokale sal trek. Die OVK se adjunk-hoof-kiesbeampte, Masego Sheburi, sê die meeste spesiale stemme is in Gauteng en KwaZulu-Natal goedgekeur:
# Die Wes-Kaapse polisie het ‘n geregtelike ondersoek geopen ná ‘n hand die naweek tussen die puin van die ingetuimelde gebou in Victoriastraat in George ontdek is. Dit volg na ‘n twee weke lange reddingsoperasie by die bouperseel waar 62 mense gered en 33 sterftes bevestig is. Nege mense is steeds in die hospitaal. Die polisie sê die menslike oorblyfsels wat opgespoor is, is na die laboratorium vir forensiese ontleding gestuur om die oorsprong te bepaal en of dit aan ‘n slagoffer verbind kan word wat gered is.
# Libiese owerhede in Benghazi is die gasheer vir afvaardiging van die Pan-Afrika-parlement om ‘n volhoubare oplossing vir migrasie te vind. Die president van die PAP, Fortune Charumbira, erken die omvang van die migrasieprobleem en benadruk die behoefte aan ‘n langdurige oplossing. Charumbira sê sy span het gesukkel om Libiese grondgebied binne te kom weens streng maatreëls vir migrasiebeheer. Dit het hulle bewus gemaak van die impak van onwettige migrasie, selfs vir diegene met wettige sake in Libië.
# Krieket: Die Kolkata Knight Riders het ʼn oortuigende oorwinning van agt paaltjies teen die Sunrisers Hyderabad behaal en spog met hul derde Indiese Premierliga-titel. Andre Russell het drie paaltjies laat kantel en die Sunrisers was op 113 almal uit met die laagste telling ooit in ʼn IPL-eindstryd. In antwoord daarop het kaptein Shreyas Iyer geskitter met die kolf en ʼn onoorwonne 52 aangeteken terwyl Kolkata die teiken in slegs 10,3 boulbeurte bereik het. Iyer sê die span het reg deur die toernooi beïndruk:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-42-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-345-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….