Nuus 06:00
BULLETIN 27 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die verkiesing sal vry en regverdig wees
# Die Verkiesingskommissie verwerp bewerings van stemknoeiery by sy stoorplekke in KwaZulu-Natal
# En 12 is beseer aan boord van ‘n vlug van Qatar Airways tydens erge turbulensie
# President Cyril Ramaphosa sê die komende verkiesing moet die land se demokrasie versterk, ongeag wat die uitslag is. Hy het die nasie gisteraand toegespreek voor die spesiale stemme vandag en môre uitgebring word en die verkiesing Woensdag plaasvind. Ramaphosa sê sedert 1994 verwag Suid-Afrikaners dat die verkiesing in vrede en bestendigheid plaasvind, en dat dit vry en regverdig moet wees:
Ramaphosa sê intussen die verkiesing beëindig die sesde administrasie, wat ná tien jaar van korrupsie en staatskaping oorgeneem het. Ramaphosa sê oor vyf jaar het parlementslede van alle partye ywerig gewerk om ‘n duidelike verkiesingsmandaat daar te stel vir transformasie:
# Die Verkiesingskommissie het bewerings van stemknoeiery by sy kantore in KwaZulu-Natal en Mpumalanga verwerp. Dit volg op video’s wat deur MK-partylede gesirkuleer is van beweerde bedrog by die OVK se stoorplek in Chesterville in KwaZulu-Natal en Hammarsdale in Mpumalanga. Die OVK sê die video’s beeld sy logistieke reëlings en berging van verkiesingsmateriaal uit terwyl hulle voorberei vir die eerste dag van spesiale stemming vandag. Die kommissie sê die stoorplekke word op ‘n 24-uur-basis bewaak.
# Die Vryheidsfront Plus in Johannesburg sê hy steun nie die metro se begroting van 83,7-miljard-rand vir die 2024/2025 boekjaar nie, want dit takel nie die stad se talle uitdagings nie. Cor Boer van die VF Plus sê die begroting spreek nie die waterkrisis aan wat deur verouderde infrastruktuur en lekkasies veroorsaak is nie. Boer voeg by hoewel die party waardering het dat eiendomsbelasting met slegs 3,8-persent verhoog is, verwerp hy die 7,7-persent verhoging vir sanitasie en 5,9-persent vir vullisverwyderingsdienste.
# Qatar Airways het ’n interne ondersoek van stapel gestuur nadat 12 mense gistermiddag beseer is weens turbulensie op ’n vlug van Doha na Dublin. Ses passasiers en ses personeellede het beserings aangemeld, waarvan agt in die hospitaal opgeneem is. Dit volg nadat ‘n Britse man vermoedelik aan ‘n hartaanval gesterf het en 104 mense beseer is toe ‘n Singapore Airlines-vlug van Londen verlede week erge turbulensie getref het. Qatar Airways sê die veiligheid van sy passasiers en bemanning is steeds uiters belangrik.
# Motorsport: Charles Leclerc van Ferrari het sy tuisren, die Monaco Grand Prix gewen. Hy het ‘n vroeë aanslag deur McLaren se Oscar Piastri afgeweer om sy eerste oorwinning sedert Julie 2022 te behaal. Sy spanmaat Carlos Sainz het derde geëindig. Lando Norris van het McLaren het vierde geëindig en Mercedes se George Russell vyfde. Die heersende wêreldkampioen Max Verstappen van Red Bull moes tevrede wees met die sesde plek en sy kampioenskapsvoorsprong bo Leclerc het tot 31 punte gekrimp. Leclerc sê om tuis te wen, is ekstra spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-688-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-334-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….