Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf president Cyril Ramaphosa het gisteraand in ‘n ongekende stap op die vooraand van die verkiesing die openbare uitsaaier gebruik om die ANC se prestasies die afgelope vyf jaar uit te basuin. Dit volg nadat verskeie opnames ‘n meerderheidsverlies vir die ANC voorspel het.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ook oor Ramaphosa se televisie-uitstending en skryf opposisiepartye het die naweek ‘n beroep op kiesers gedoen om te gaan stem. Dit word bestempel as ‘n deurslaggewende verkiesing.
Tweedens skryf die koerant oor die eerste dag van die Franse Ope en tennis uit die boonste rakke wat verwag word.
En laastens is daar ‘n brok oor die akteur Alec Baldwin wat nou strafregtelik vervolg gaan word ná die skietdood op ‘n rolprentstel van Halyna Hutchins vroeër.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oor Ramaphosa se ernstige waarskuwing teen diegene wat beplan om die verkiesing te ontwrig.
En berig die Pikitup-staking in Johannesburg het geen einde in sig nie.
# Sowetan:
Lei met: “DON’T STEP OUT OF LINE”. Die koerant berig oor die waarskuwings van die hoofde van wetstoepassingsagentskappe teen enigiemand wat die verkiesing wil ontwrig.
# En The Citizen:
Skryf elke politieke party het die naweek een of ander platform gebruik om jou stem te probeer wen.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die verkiesing.
En tweedens skryf die koerant oor die Griekwas se oorwinning oor die Pumas om die eerste SA Beker te wen.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei soos die ander twee Media24-susterskoerante met die verkiesing.
En tweedens word berig daar bestaan kommer oor misdaad in Wellington. Dit volg nadat ‘n plaaslike gesin in hul huis oorval en beroof is. Hulle is vasgebind en verskeie waardevolle artikels is gesteel.
# En Cape Times:
Skryf van die stemlokale met die hoogste risisko vir geweld en ontwrigting is in KwaZulu-Natal geïdentifiseer.
En berig oor politieke partye se veldtogte wat die naweek afgesluit is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Staan die grootste deel van sy koerant vandag af aan die koorsagtige voorbereidings van politieke partye vir die verkiesing in die Oos-Kaap.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die OVK het die aantygings oor stemknoeiery in KwaZulu-Natal verwerp en die dreigemente teen sy werknemers deur die MK-party veroordeel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n kabinetsbesluit om strenger visumvereistes in te stel vir burgers van lande wat duur en lang visumaansoeke vir Namibiërs vereis, het hewige kritiek ontlok.
En skryf tweedens die voormalige Namibiese minister van Justisie en Fishrot-beskuldigde, Sacky Shanghala is ontsteld omdat daar in sekere howe tralies tussen hom en die regter is.