Nuus 09:00
BULLETIN 26 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen sê die Wes-Kaap kies hoop en eenheid
# OUTA staan by sy verslag oor NSFAS-opnames
# En, sokker: Man City verbysterd gelaat deur Man United se FA-Beker-triomf
# Die DA-leier John Steenhuisen sê as die mense van die Wes-Kaap die vordering wat die party gemaak het wil beskerm, moet hulle Woensdag vir die DA stem. Steenhuisen het tydens ‘n saamtrek in Belhar, Kaapstad, gepraat. Met verwysing na die ANC en wat hy noem hulle handlangers in die EFF en die Patriotic Alliance, het Steenhuisen gesê mense sal nie dié partye en hulle politiek van vrees en verdeling toelaat om die mag weer aan diewe en plunderaars terug te gee nie. Hy sê die Wes-Kaap kies hoop en eenheid.
Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, vra intussen alle Suid-Afrikaners om die oue te verwerp en die nuwe Woensdag te omhels. Maimane het by die party se Jikizinto finale saamtrek op Ellispark in Johannesburg gepraat. Hy sê BOSA versoek mense om hulle oë van die truspieël en die huidige stryd af te haal, en te kyk na wat die toekoms kan wees. Maimane erken die onsekerheid van verandering kan bietije vreesaanjaend wees:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê hy staan by sy verslag oor die uitgelekte stemopnames oor die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Dit is ondanks ‘n ondersoek wat bevind het daar is nie enige bewyse in die opnames wat minister Blade Nzimande en die voormalige voorsitter van die skema, Ernest Khosa, by korrupsie betrek nie. Rudie Reyneke van OUTA sê hulle stem nie saam met die bevindings van die ondersoek nie:
# Chileense owerhede het ‘n brandbestryder en ‘n bosbouwerker arresteer na hulle vermoedelik in Februarie ‘n brand gestig het waarin minstens 137 mense gesterf het. Een van die mans het gewerk vir die Nasionale Bosbou-korporasie wat verantwoordelik is vir brandbestryding. Die verdagtes word aangehou en is van brandstigting wat tot sterftes gelei het, aangekla. Chile se dodelikste brand het die Valparaíso-streek, nie ver van die hoofstad Santiago af nie, erg beskadig.
# En, sokker: Manchester United-bestuurder, Erik ten Hag, het bespiegeling oor sy toekoms eenkant gelaat toe sy span gisteraand op Wembley die FA-Beker ingepalm het met ‘n verbysterende oorwinning van 2-1 teen die Premierligakampioene, Manchester City. Berigte verlede week was dat United se paaie met die Nederlander sou skei, ongeag die uitslag van die eindstryd. Sky News berig as dit waar is, het die United-spelers hom die beste moontlike vaarwel toegeroep met twee doele van Alejandreo Garnacho en Kobbie Mainoo in die eerste helfte, wat Pep Guardiola se span verbysterd gelaat het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….