Nuus 09:00
BULLETIN 25 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die ANC het ‘n baie goeie veldtog gevoer
# RISE Mzansi verwelkom die Internasionale Geregshof se bevel teen die Israelse regering
# En, sokker: Guardiola sê hy het groot respek vir Ten Hag voor die FA Beker-eindstryd
# President Cyril Ramaphosa sê die ANC het ‘n baie goeie veldtog gevoer, met ‘n duidelike verkiesingsboodskap wat die harte en denke van mense regoor die land oortuig het. Ramaphosa het gister saam met jongmense in Vilakazistraat in Orlando-Wes, Soweto, gestap. Hy sê die geskiedkundige plek wat twee Nobelpryswenners Nelson Mandela en Desmond Tutu opgelewer het, het sy eie gevoel van oorwinning ‘n hupstoot gegee:
Die Departement van Korrektiewe Dienste het intussen bekendgemaak 14-duisend-753 gevangenes sal aanstaande week onder toesig van die Verkiesingskommissie stem. Die minister van die departement, Ronald Lamola, sê logistieke voorbereidings, insluitende stembriewe en veilige stemhokkies, verseker voldoening aan die Kieswet. Hy bevestig omvattende kiesersopleiding is gedoen en verseker ook die teenwoordigheid van onafhanklike waarnemers sal ‘n regverdige proses verseker.
# RISE Mzansi verwelkom die uitspraak van die Internasionale Geregshof wat ‘n beroep op die Israelse regering doen om onmiddellik sy aanvalle op Rafah in die suide van Gaza stop te sit. RISE Mzansi se woordvoerder, Gugu Ndima, sê dit is belangrik, want toe die aanvalle na 7 Oktober voortgesit is, moes miljoene Palestyne uit noordelike gebiede in Gaza vlug. Ndima sê die humanitêre situasie het verder versleg sedert die eerste bevel van die hof in Januarie:
# Dokters Sonder Grense bepleit die beskerming van honderde-duisende burgerlikes wat vasgevang is in die gevegte tussen die M23-rebellegroep en regeringsmagte in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo. Die hoofsaaklik Tutsi-geleide M23 het sy gewapende veldtog aan die einde van 2021 hervat en grondgebied in die Noord-Kivu-provinsie binnegeval. Geweld woed in die gebied terwyl die Kongolese Weermag, gerugsteun deur ‘n handjievol soldate van ‘n gewapende burgermag bekend as die Wazalendo, of patriotte in Swahili, probeer om die Rwandees-gesteunde rebelle te stuit.
# En, sokker: Pep Guardiola sê hy het groot respek vir Erik te Hag ondanks ‘n aaklige seisoen vir Manchester United. Manchester City se bestuurder wil nog geskiedenis maak in vandag se FA Beker-eindstryd. City vier reeds ‘n ongekende vier Premierliga-titels in ‘n ry en sal die eerste span word om die liga én die FA Beker twee keer na mekaar te wen as hy United op Wembley klop. United het ses van sy vorige wedstryde teen City in alle kompetisies verloor. Hulle het agtste geëindig in die Premierliga.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….