Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA gaan Nersa se Karpowership-lisensies in die hof betwis
# Ramaphosa vra jong beroepslui se steun in die komende verkiesing
# En, rugby: Kaartjies kan nie net gekoop word vir die Bokke se toets teen die All Blacks in Kaapstad nie
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik neem die energiereguleerder, Nersa, hof toe oor sy besluit om opwekkingslisensies aan die Turkse onderneming Karpowership in Suid-Afrikaanse hawens toe te staan. OUTA het ‘n aansoek ingedien om die volledige, ongeredigeerde rekords te bekom van Nersa se besluit om lisensies goed te keur. Die verhoor sal volgende maand in die Hooggeregshof in Pretoria plaasvind. Stefanie Fick van OUTA voer aan Nersa se besluitneming toon geen deursigtigheid nie en kon nie ‘n balans tussen openbare en ekonomiese belange bewerkstellig nie:
# President Cyril Ramaphosa verdedig sy leierskapstyl te midde van bewerings hy is swak en besluiteloos. Hy het jong beroepslui by die Gordon-instituut vir Sakewetenskap in Johannesburg toegespreek en sy verbintenis benadruk tot raadpleging en ‘n maatskaplike ooreenkoms. Ramaphosa het kiesers aangeraai om die ANC in die komende verkiesing te ondersteun om hom in staat te stel om sy werk voort te sit:
Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê intussen die party se ondersteuners sal steeds vir hulle stem om die progressiewe verwesenliking van universele basiese dienste en die voorsiening van ‘n maatskaplike inkomste voort te sit. Die ANC sal verseker sy openbare verteenwoordigers word aanspreeklik gehou vir die basiese dienste aan gemeenskappe wat deel uitmaak van hulle verantwoordelikhede. Volgens Mbalula sal hulle die instelling daarvan opvolg deur middel van die ANC se Plaaslike Regeringsmonitor.
# Rugby: Kaartjies vir die Rugbykampioenskapstoets tussen die Springbokke en All Blacks in Kaapstad sal op 19 Junie te koop wees. ‘n Openbare registrasie van belangstelling sal van 27 Mei tot 9 Junie gehou word en ‘n kaartjie-trekking sal gedoen word om ‘n regverdige proses te verseker. Registrasie van belangstelling is ‘n inskrywing vir die trekking en verseker nie outomaties kaartjies nie. Suksesvolle aansoekers, wat lukraak gekies sal word, sal genooi word om tot vier kaartjies per persoon te koop. Kaartjies wissel van 250- tot drie-duisend-500-rand.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-412-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-338-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-16-sent per vat.
# En ten slotte: Franschhoek se La Petite Colombe en die Stellenbosch-gebaseerde sjef, Callan Austin, was onder die wenners op die Luxe-restauranttoekennings. Die toekennings vier Suid-Afrika se beste kos-, gasvryheid- en leefstyl-talent. La Petite Colombe is aangewys as Restaurant van die Jaar, terwyl Austin as Sjef van die Jaar bekroon is. Ander wenners sluit in die Opkomende Kulinêre Ster-toekenning aan Matt van den Berg, The Table by De Meye in Stellenbosch wat Gesinsrestaurant van die Jaar is, en sjef James Gaag wat die Baanbrekertoekenning ontvang het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….