Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Politieke partye maak gereed vir die laaste poging om stemme te werf voor die verkiesing
# Ramaphosa beklemtoon die Wet op Geslagsgeweld en Vrouemoord sal vroue se veiligheid verseker
# En, rugby: Die Haaie kry vanaand die geleentheid om ‘n Europese titel te buit
# Politieke partye maak gereed vir hul laaste pogings om stemme te werf voor volgende week se verkiesing. Die ANC, die DA, die EFF, en ActionSA hou hierdie naweek hul laaste saamtrekke. Ontleders sê hoewel veldtogte sterk was, is daar onetiese beloftes aan kiesers gemaak. ‘n Ontleder, Sanusha Naidu, het die oneerlike aard van die veldtogte gekritiseer en gesê partye maak beloftes sonder om werklik by gemeenskappe betrokke te raak. Nog ‘n ontleder, Dirk Kotzé, beaam dit en betreur dat kiesers die swaarste las sal dra van hierdie misleidende beloftes.
# President Cyril Ramaphosa het die Wetsontwerp op die Nasionale Raad oor Geslagsgeweld en Vrouemoord by die Uniegebou onderteken. Hierdie wetgewing, wat die eerste keer in 2022 ingedien is, het ten doel om die hoë koerse van geslagsgeweld en vrouemoord hok te slaan. Ramaphosa het beklemtoon die wet sal die veiligheid van vroue verseker, die oorlewendes ondersteun, oortreders aanspreeklik hou en geslagsgelykheid bevorder. Hy sê die nuwe raad sal pogings oor verskeie sektore saamvoeg om dit te bekamp:
# Die Vryemarkstigting doen ‘n beroep op die nuwe Parlement om wetgewing aan te neem wat Suid-Afrika se strafreg kodeer, gegewe die land se hoë koers van geweldsmisdaad. Die voorgestelde Wetsontwerp op die Strafregwet het ten doel om misdadige gedrag duidelik te definieer en die land se dringende misdaadkwessies aan te pak. Die wetsontwerp vorm deel van die stigting se Artikel 12-projek, wat ook ‘n voorstander is van die desentralisasie van strafregtelike verantwoordelikhede. Die hoof van beleid, Martin van Staden, sal die Konsepwetsontwerp op die Strafregwet binne die komende week uitklaar.
# Rugby: Die Haaie is vanaand die eerste Suid-Afrikaanse span om in die eindstryd van ‘n Europese beroepsklubtoernooi te speel wanneer hulle in Londen in die Uitdaagbeker teen Gloucester te staan kom. Die Haaie speel in die eindstryd na die swakste veldtog deur ‘n Suid-Afrikaanse span in die Verenigde Rugbykampioenskap, nadat hulle slegs vier van hulle 17 wedstryde kon wen. Die Springbok-loskopstut Ox Nché, wat in sy 50ste wedstryd vir die Durbaniete speel, glo die Haaie kan dit vanaand steeds in ‘n suksesvolle seisoen omskep:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-409-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-339-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-99-sent per vat.
# Ten slotte: Die Rock n Roll-musieklegende, Bruce Springsteen, is in die Ivor’s Academy-genootskap opgeneem tydens die Ivor Novello-toekennings in Londen. Hy is slegs die 27ste persoon om die eretoekenning te ontvang en hy sluit hom aan by mense soos Elton John, Joan Armatrading, John Barry, Kate Bush en Paul McCartney. Springsteen het meer as 140-miljoen plate verkoop en ‘n Oscar, ‘n Tony en 20 Grammy-toekennings verower. Sy beroemde treffers sluit in Born to Run, Thunder Road, Hungry Heart en Born in the USA.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….