Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, open die NATJOINTS-koördineringsentrum
# Cosatu sê die ondertekening van die NVG-wysigingswetsontwerp is belangrik
# En, sokker: Maradona se familie probeer om die verkoop van sy Goue Bal-trofee te keer
# Die ministers van die justisie-, misdaadvoorkomings- en sekerheidsgroepering, onder leiding van die minister van Polisie, Bheki Cele, het voor die verkiesing die NATJOINTS-koördineringsentrum by die polisie-akademie in Tshwane geopen. Dit is met moderne tegnologie toegerus om nasionale sekerheid te monitor, inligting te koördineer en reaksie te bestuur om ‘n veilige kiesproses te verseker. Die nasionale polisie-woordvoerder, Athlenda Mathe, sê voertuie word ook oorhandig om polisie-sigbaarheid te verhoog:
# Cosatu verwelkom president Cyri Ramaphosa se besluit om vandag die langverwagte Wysigingswetsontwerp oor die Nasionale Vervolgingsgesag te onderteken. Dit maak voorsiening vir die vervanging van die NGV se Ondersoekdirektoraat met ‘n permanente struktuur, die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, en ook vir die aanstelling van ondersoekbeamptes. Matthew Parks van Cosatu sê die wetsontwerp bied broodnodige ingryping vir die NVG en die staat in die stryd teen korrupsie:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het tussen Januarie en Maart vanjaar 105 opwekkingsaanlegte geregistreer. Die algehele beleggingswaarde is 18,4-miljard-rand en dit sal 788 megawatt elektrisiteit opwek. Nersa se woordvoerder, Charles Hlebela, sê die geregistreerde aanlegte sluit in foto-voltaïese sonkrag met battery-stelsels, windturbines, gemengde opwekking en gas:
# Sokker: Die erfgename van die Argentynse legende, Diego Maradona, probeer om die verkoop van die Goue Bal-trofee te keer wat hy in 1986 se Wêreldbekertoernooi in Mexiko verower het. Dit sal na verwagting miljoene haal wanneer dit vroeg volgende maand in Frankryk opgeveil word. Die trofee het dekades lank verdwyn voor ‘n Franse oudhedehandelaar dit in 2016 in Parys opgespoor het. Die Maradona-familie se regsverteenwoordigers voer aan dit behoort regtens aan sy erfgename. ‘n Hof sal volgende week beslis of die veiling mag voortgaan. Maradona is in 2020 op 60-jarige ouderdom oorlede.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-51-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-341-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-94-sent per vat.
# Ten slotte: Minstens 83 brul-ape is dood aangetref in die Mexikaanse Golfkus-staat Tabasco, terwyl inwoners ander gered en na ‘n plaaslike veearts geneem het. Mantel-brul-ape is bekend vir hulle brulgeluide en word as kwesbaar beskryf op die rooilys van die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur. Die primate het gevrek te midde van ‘n droogte en baie hoë temperature. Mexiko se ministerie van die Omgewing gee verskeie redes vir die vrektes, waaronder sonsteek, ontwatering, wanvoeding en giftige landbou-chemikalieë op landerye.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….