Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Mei 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbokslot Eben Etzebeth is vanaand die Haaie se kaptein in die Uitdaagbeker-eindstryd teen Gloucester in Londen. Hy neem oor by sy mede-Wêreldbekerwenner Lukhanyo Am, wat beseer is. Die hoofafrigter, John Plumtree, het dieselfde span gekies wat Clermont in die voorlaaste ronde geklop het. Nog ‘n Bok, die loskopstut Ox Nché, wat sy 50ste wedstryd vir die Durbanse span speel, sê almal is gefokus. Die wedstryd skop vanaand om nege-uur af op Tottenham Hotspur se stadion.
Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê intussen hy is tevrede met die grondslag wat by die nasionale span se tweede belyningskamp in Kaapstad gelê is. Die eerste belyningskamp was in Maart, en die tweede wat deur 38 spelers bygewoon is, is dié week aangebied. Die Bokke skop hul internasionale seisoen op 22 Junie af teen Wallis. Erasmus sê die kamp was uiters waardevol om die spelers bloot te stel aan gedetailleerde aspekte van die spel wat hierdie seisoen ingestel sal word:
# Krieket: Die Wes-Indiese Eilande het Suid-Afrika met 28 lopies verslaan in die eerste T20 op Sabinapark in Kingston, Jamaika. Die tussentydse kaptein, Brandon King, het 79 van 45 balle gemoker en die gasheer het 175 vir agt op die telbord geplaas. Daarna het Reeza Hendricks ‘n loopbaan-beste 87 aangeteken, maar dit was nie genoeg nie en die Proteas was op 147 almal uit. Dis die grootste tellingverskil nóg waarmee die Windies in hierdie formaat met Suid-Afrika afgereken het. Die tweede T20 word môre gespeel.
Nog krieketnuus: Vanjaar se Indiese Premierliga staan einde se kant toe, en die voorlaaste wedstryd word vandag gespeel. Sunrisers Hyderabad en Rajasthan Royals pak mekaar in die tweede kwalifiseerder in Chennai. Sunrisers het in die eerste kwalifiseerder verloor teen Kolkata Knight Riders, wat boaan die punteleer geëindig het, terwyl Rajastan vir Royal Challengers Bengaluru verslaan het in Woensdag se uitklopstryd. KKR het die toernooi reeds twee keer gewen, Sunrisers is in 2022 tot kampioen gekroon en Rajasthan het in 2008 gewen.
# En laastens, sokker: Die erfgename van die Argentynse legende, Diego Maradona, probeer om die verkoop van die Goue Bal-trofee te keer wat hy in 1986 se Wêreldbekertoernooi in Mexiko verower het. Die trofee sal na verwagting miljoene haal wanneer dit vroeg volgende maand in Frankryk opgeveil word. Die trofee het dekades lank verdwyn voor ‘n Franse oudhedehandelaar dit in 2016 in Parys opgespoor het. Die Maradona-familie se regsverteenwoordigers voer aan dit behoort regtens aan sy erfgename. ‘n Hof sal volgende week beslis of die veiling mag voortgaan. Maradona is in 2020 op 60-jarige ouderdom oorlede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….