Nuus 16:00
BULLETIN 23 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis die vrystelling van misdaadstatistieke voor die verkiesing
# Vroueleiers vuur sukses aan en verbeter die beskikbaarheid van elektrisiteit by Eskom
# En, krieket: Proteas begin met hulle finale Wêreldbeker-voorbereiding met die eerste T20 teen die Windies
# Die DA het die minister van Polisie, Bheki Cele, beskuldig van die verpolitisering van misdaadstatistieke deur die bekendmaking voor die verkiesing uit te stel. Daar was ‘n geskeduleerde bekendmaking verlede week, maar die misdaadstatistiek vir die vierde kwartaal van 2023/’24 word eenvoudig nie bekendgemaak nie. Die party beloof om deursigtigheid en aanspreeklikheid in misdaadverslaggewing te verseker. Andrew Whitield van die DA sê ‘n versoek is ingedien ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om die data te bekom en die statistieke bekend te maak:
# Al vier Eskom se steenkoolaangedrewe kragstasies met elektrisiteitsbeskikbaarheidsfaktore van meer as 75-persent word deur vroue gelei. Eskom se personeelbestuurder, Elsie Pule, het op die Vroue in Energie-ontbyt op Enlit Africa 2024 die nutsmaatskappy se dekade lange Vrouebevorderingsprogram uitgelig. Dit het senior vrouebestuurders vermeerder van 29- tot 42-persent en die geslagsalarisgaping venou tot ses-persent. Pule sê die energiebeskikbaarheidsfaktor het verbeter oral waar ‘n vrou oorgeneem het. Die program berei nou 100 vroue voor vir senior en toekomstige bestuursrolle.
# Suid-Afrika oorweeg ‘n formele klagte by die Wêreldhandelsorganisasie teen die Europese Unie se voorgestelde koolstofperk-aanpassingsmeganisme. Die minister van Handel, Nywerheid en Medediging, Ebrahim Patel sê die heffing op koolstof-intensiewe invoere soos staal en sement sal ontwikkelende lande straf wat sukkel om uitlatings te verminder. Die toetsfase begin in Oktober en dit sal in 2026 ten volle ingestel word. Patel sê die meganisme teiken ontwikkelende ekonomië onregverdig en kan Suid-Afrika ekonomies ernstig benadeel. Hy vra voortgesette onderhandelings.
# Krieket: Die Proteas pak vanaand die Wes-Indiese Eilande in Jamaika in die eerste van drie T20’s. Hierdie reeks sal as ‘n belangrike opwarming dien vir die T20-Wêreldbekertoernooi wat volgende maand in die Karibiese Eilande en Amerika gespeel word. Rassie van der Dussen is die kaptein van die Proteas vir die reeks wat hulle die geleentheid bied om aan die Karibiese klimaatstoestande gewoond te raak:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-848-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-367-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-56-sent per vat.
# En, hoofregter Raymond Zondo het die ontslape regter van die Konstitusionele Hof ,Yvonne Mokgoro, geprys as die verwesentliking van grondwetlike waardes. Zondo het op haar begrafnisdiens by die Katolieke Kerk in Bryanston, Johannesburg, gepraat en Mokgoro voorgehou as ‘n ikoon in die geskiedenis van vroueregters. Sy het ook geveg vir menseregte, teen die doodstraf en vir gevangenes se reg om te stem. Zondo bevestig ‘n gedenkdiens sal Maandag vir haar in die Konstitusionele Hof gehou word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….