Goeie Nuus
BULLETIN 23 Mei
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die top-30-kandidate wat om die Mej Suid-Afrika-titel meeding, is bekendgemaak, met Gauteng wat die meeste deelnemers het, naamlik 14. Onder vanjaar se uiteenlopende groep hoopvolle vroue is ‘n mediese student, gegradueerdes, onderwysers en ʼn choreograaf. Een van die deelnemers is die 28-jarige Mia le Roux van die Wes-Kaap wat op eenjarige ouderdom met ernstige gehoorverlies gediagnoseer is. Ander mededingers sluit in die naaswenner van Mej Soweto in 2021, Ontshiametse Tlhopane, en Nompumelelo Maduna, wat in 2019 onder Mej Suid-Afrika se top-drie was.
# Die lewe van die driejarige Leah-Rose McBean van Mosselbaai gaan drasties verbeter deur ‘n skenking van die Wes-Kaapse regering. Sy gaan ‘n prostese ontvang na die provinsiale regering met behulp van borgskappe ‘n lewensveranderende skenking gedoen het. Die kleuter is met ‘n seldsame toestand gebore wat veroorsaak het dat haar regterbeen afgesit moes word toe sy nog ‘n baba was. Mossselbaai se burgemeester, Dirk Kotzé, sê dis ‘n voorreg dat hy ‘n klein rol kon speel om waardigheid tot Leah-Rose se lewe toe te voeg.
# Inskrywings is nou oop vir die Sourcing Cape Town Young Designers-kompetisie Die kompetisie is oop vir alle ontwerpers wat vanjaar of die afgelope vyf jaar gegradueer het, of wat tans deel is van ‘n ontwerp-internskapprogram. Die kompetisie bied ‘n ongelooflike platform vir ontluikende ontwerpers om hulle talent en kreatiwiteit ten toon te stel deur ‘n vertolking van ‘n unieke ontwerp-opdrag. Vanjaar se tema is Deur die Lens van Afrika. Inskrywings sluit op tien Julie.
# Die Departement van Water en Sanitasie doen ‘n beroep op hoërskole in die land om aan die Suid-Afrikaanse Jeug Waterpryskompetisie deel te neem. Die kompetisie is gemik op graad nege-, tien- en elf-leerders wat vernuwende idees en projekte het wat kan help om die water- en sanitasiekrisis in hulle gemeenskappe te takel. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê die kompetisie begin op provinsiale vlak tot nasionale vlak en dan op ‘n globale vlak in Stockholm, Swede:
# En, Ultima Antarctic Expeditions het besprekings vir sy komende Antarktiese seisoen tussen November vanjaar en Februarie volgende jaar geopen, met slegs 250 beskikbare sitplekke. Gaste vertrek van Kaapstad en vlieg na die binneland van Antartika binne slegs vyf en ‘n half-uur. Van die beskikbare sitplekke is slegs 100 vir die mees eksklusiewe ervaring van ‘n leeftyd: die Suidpool en Keiser-ekspedisie. Dit sluit besoeke in aan antieke ysgrotte en pikkewyn-besigtiging in hulle natuurlike habitat. Uitvoerende hoof Riaan Aucamp sê die ekspedisies skep toekomstige Antarktiese ambassadeurs.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….