Eko-minuut 13:30
BULLETIN 23 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging beklemtoon die belangrikheid van sterk verhoudings tussen die regering en die privaat sektor om vervaardigingsaanlegte vir groen energie te ontwikkel. Afrika se krag-aanvraag gaan teen 2050 agt keer groter wees en hernubare bronne sal baie bydra om aan hierdie behoefte te voldoen. Die departement se direkteur van Groen-ekonomie-nywerhede, Annelize van der Merwe, sê die regering ontwikkel ook meer beleide om groter samewerking tussen verskillende departemente moontlik te maak en ‘n billike energie-oorgang te verseker.
# Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap waarsku Afrikanasies om beter te beplan vir klimaatsverandering. Die streek sal na verwagting in komende dekades hoër land- en see-oppervlak-temperature beleef wat reënval, wind en die tyd en intensiteit van weerstoestande sal beïnvloed. Die SAOG se uitvoerende sekretaris, Elias Magosi, sê die toenemende voorkoms van oorstromings, siklone en droogtes kan infrastruktuur beskadig, oeste vernietig, lewensomstandighede ontwrig en tot lewensverlies lei:
# En ten slotte: Ultima Antarctic Expeditions het besprekings vir sy komende Antarktiese seisoen tussen November vanjaar en Februarie volgende jaar geopen, met slegs 250 beskikbare sitplekke. Gaste vertrek van Kaapstad en vlieg na die binneland van Antartika binne slegs vyf en ‘n half-uur. Van die beskikbare sitplekke is slegs 100 vir die mees eksklusiewe ervaring van ‘n leeftyd: die Suidpool en Keiser-ekspedisie. Dit sluit besoeke in aan antieke ysgrotte en pikkewyn-besigtiging in hulle natuurlike habitat. Uitvoerende hoof Riaan Aucamp sê die ekspedisies skep toekomstige Antarktiese ambassadeurs.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….