Nuus 13:00
BULLETIN 23 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile vereer 21 gevalle MK-operateurs in Soweto
# Vivo Energy belê meer as 10-miljard-RAND in Suid-Afrika na sy samesmelting met Engen
# En, rugby: Die Haaie mik na hulle eerste internasionale titel
# Adjunkpresident Paul Mashatile is vandag die hoofspreker tydens die oorhandiging van grafstene aan 21 families van gevalle voormalige MK-operateurs in Soweto. Sy kantoor sê hulle is tussen 1986 en ’89 vermoor of ontvoer deur apartheidsmagte terwyl hulle vir demokrasie geveg het. Hulle oorskot is opgegrawe en herbegrawe na die Waarheids- en Versoeningskommissie se proses. Die regering sê die plegtigheid onderstreep die toewyding om die opofferings vir demokrasie en geregtigheid te onthou en te herdenk.
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel, sê Vivo Energy wat deur die globale verbruiksgoedere-handelaar Vitol besit word, gaan aanvanklik tien-miljard-rand in sy Suid-Afrikaanse bedrywighede belê. Dit volg ná sy samesmelting met Engen. Patel sê die belegging is deel van ‘n reeks verbintenisse tot openbare belang en mededinging wat werksverliese wil voorkom en voortgaan met kontrakte aan plaaslike raffinaderye:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê moedertaal-gebaseerde tweetalige onderwys is baie progressief, maar kan in sommige provinsies onvoorsiene gevolge hê. Suid-Afrikaanse skole sal van volgende jaar van graad vier af toenemend moedertaalonderrig aan leerders bied. Makaneta sê in provinsies soos Gauteng kan dit moontlik nie die gewenste uitwerking hê nie omdat dit gebruik kan word om leerders uit te sluit:
# Rugby: Die Haaie speel in hulle vyfde internasionale eindstryd wanneer hulle môre in Londen teen Gloucester te staan kom in die Uitdaagbeker. Hulle het verloor in ál vier Super Rugby-eindstryde wat hulle gehaal het. Die span het nou die kans om die trofee in ‘n nuwe kompetisie in te palm. Die Haaie se direkteur van rugby, Neil Powell, sê hulle is slaggereed vir die beslissende stryd:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-708-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-363-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-17-sent per vat.
# En, Ultima Antarctic Expeditions het besprekings vir sy komende Antarktiese seisoen tussen November vanjaar en Februarie volgende jaar geopen, met slegs 250 beskikbare sitplekke. Gaste vertrek van Kaapstad en bereik die binneland van Antartika binne slegs vyf en ‘n half-uur. Van die beskikbare sitplekke is slegs 100 vir die mees eksklusiewe ervaring van ‘n leeftyd: die Suidpool en Emperors-ekspedisie. Dit sluit besoeke in aan antieke ysgrotte en pikkewyn-besigtiging in hulle natuurlike habitat. Die uitvoerende hoof van Ultima Antartic Expeditions, Riaan Aucamp, sê die ekspedisies skep toekomstige Antarktiese ambassadeurs.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….