Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee sê hy is vol vertroue die regte boustene is ingestel vir die Olimpiese Spele wat op 26 Julie in Parys begin. Die eerste 39 atlete wat die land sal verteenwoordig, is verlede week aangekondig, insluitend Chad le Clos, Tatjana Smith, en Wayde van Niekerk. Saskok se vise-president, Lwandile Simelane, sê hulle het volle vertroue in die span:
# Rugby: Die Haaie speel in hulle vyfde internasionale eindstryd wanneer hulle môre in Londen teen Gloucester te staan kom in die Uitdaagbeker. Hulle het verloor in ál vier Super Rugby-eindstryde wat hulle gehaal het. Die span het nou die kans om die trofee in ‘n nuwe kompetisie in te palm. Die Haaie se direkteur van rugby, Neil Powell, sê hulle is slaggereed vir die beslissende stryd:
# Krieket: Rajasthan Royals sal teen Sunrisers Hyderabad te staan kom in môre se tweede kwalifiseringswedstryd van die Indiese Premierliga. Rajasthan het Royal Challengers Bengaluru gisteraand met vier paaltjies geklop in die uitklopstryd. Hulle het RCB tot 172 vir agt beperk en toe hul teiken bereik met ses paaltjies plat en ‘n boulbeurt oor. Môre se wenner sal in Sondag se eindstryd teen Kolkata Knight Riders te staan kom. Rajasthan se kaptein, Sanju Samson, het volle vertroue in sy span:
# Tennis: André Agassi is aangekondig as Span Wêreld se nuwe Laver-bekerkaptein vanaf volgende jaar. Die Amerikaanse wenner van agt Grand Slam-titels volg sy landgenoot John McEnroe op, wat die span gelei het sedert die kompetisie in 2017 begin het. Björn Borg van Swede, wat Wimbledon sedert 1976 vyf agtereenvolgende jaar gewen het, is tans kaptein van Span Europa, maar die Switserse legende Roger Federer word genoem as ‘n moontlike opvolger vir hom volgende jaar. Europa het die eerste vier toernooie gewen, en Wêreld die volgende twee.
# En, gholf: Die Britse tiener Kris Kim maat sy debuut op die DP World-toer op die Britse Meesterstoernooi. Die 16-jarige het vroeër die maand op die Byron Nelson-toernooi in Texas die jongste speler in nege jaar geword wat die afsnypunt van ‘n PGA-toer oorleef. Die Britse Ope word die laaste naweek van Augustus op die Belfry gespeel. BBC Sport berig Kim het vroeër beïndruk as ‘n junior speler. Hy het drie toernooie gewen en Europa verlede jaar gehelp om die Junior Ryder-beker te wen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….