Nuus 08:00
BULLETIN 23 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE is vol vertroue op ‘n klinkende oorwinning ten spyte van kwynende steun
# Numsa open ‘n aanrandingsaak teen SA Steel Mills
# En Israel oorweeg verdere diplomatieke stappe teen Noorweë, Ierland en Spanje
# COPE sê sy werwingspan het die Suid-Afrikaanse kieserskorps voldoende gemobiliseer en is vol vertroue die party gaan volgende Woensdag ‘n klinkende oorwinning behaal. Die party het in 2009 7,42-persent steun in die nasionale verkiesing gekry wat in 2014 tot 0,67-persent gedaal het en 0,27-persent in die 2019 verkiesing. COPE se sekretaris-generaal, Erick Mohlaphamaswi, sê burgers verdien beter as die uiterste armoede waarin hulle leef, te midde van verslegtende ekonomiese en maatskaplike ongelykhede:
# Die Presidensie sê die regering het van die hindernisse vir die opwekking van krag deur die privaat sektor verwyder wat tot reuse-beleggings gelei het. Hy het die vordering van die Energie-een-stop-winkel geloof wat die koppeling van privaat projekte van enige grootte aan die netwerk sonder ‘n lisensie toelaat. Die toevoer van sulke projekte verteenwoordig tans ‘n vermoë van 22,5 gigawatt met ‘n geraamde waarde van 390-miljard-rand. Die Presidensie sê die hervorming van die energiestelsel het ook ver gevorder met die goedkeuring van die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering.
# Die metaalwerkersvakbond Numsa sê hy het ‘n aanrandingsaak aanhangig gemaak teen SA Steel Mills, wat as Alfeco Holdings handel dryf. Dit volg nadat ʼn privaat sekerheidsmaatskappy gister met rubberkoeëls op sy lede geskiet het terwyl hulle buite die maatskappy se kantoor in Johannesburg betoog het. Die vakbond is besig met ʼn onbepaalde staking nadat die staalvervaardiger 162 werkers afgedank het omdat hulle verlede maand volgens die Arbeidshof onwettig gestaak het. Numsa-woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola sê vier werkers is in die hospitaal opgeneem:
# Die Israelse ministerie van Buitelandse Sake oorweeg volgens berigte verdere diplomatieke stappe teen Noorweë, Ierland en Spanje nadat hulle verklaar het hulle gaan ʼn Palestynse staat erken. Israel het reeds sy ambassadeurs uit dié lande herroep en hou noodsaaklike fondse van die Palestynse Owerheid terug. Moontlike diplomatieke stappe sluit in dat amptenare van hierdie lande se besoeke aan Israel gekanselleer word, en dat die visums van hierdie lande se diplomate teruggetrek word wat hulle besoeke aan gebiede in die Wesoewer kan beperk.
# Krieket: Rajasthan Royals het Royal Challengers Bengaluru met vier paaltjies verslaan in die uitklopwedstryd van die Indiese Premierliga. Rajat Patidar met sy 34 het die meeste lopies aangeteken terwyl RCB tot 172 vir agt beperk is. In antwoord daarop het aanvangskolwer Yashasvi Jaiswal 45 gemoker en Rajasthan het die teiken bereik met ses balle wat oorbly. Rajasthan speel Vrydag teen Sunrisers Hyderabad om te bepaal wie Sondag in die eindstryd met Kolkata Knight Riders kragte meet. Rajasthan se kaptein, Sanju Samson, sê die span het nou meer selfvertroue:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-345-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-370-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….