Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Anglo American het die jongste aanbod van die myngroep BHP verwerp op grond daarvan dat dit ‘n onwerkbare struktuur behou. BHP het nou nagenoeg 900-miljard-rand aangebied en die maatskappy is gretig om sy koperportefeulje te versterk te midde van die groeiende vraag na minerale wat in ekovriendelike energiebronne gebruik kan word.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor die pitbull-aanval op Michael Rossouw, sy lewensmaat Tanya Prinsloo en hul baba Kian in Lichtenburg. Michael het die aanval afgeweer en is tans in die hospitaal in Klerksdorp.
En tweedens skryf die koerant die Hooggeregshof in Johannesburg het die Gautengse regering tot môre tyd gegee om welsynsorganisasies in te lig oor hul betaling.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die Regulerende Advertensieraad het in die guns van ‘n verbruiker beslis wat gekla het oor ‘n Mr Price-kinderadvertensie. Daar is bevind die advertensie neig na die objektivering van vroue.
En berig tweedens oor die goue medalje wat Suid-Afrika by die Chelsea-blommeskou verwerf het.
# Sowetan:
Berig daar is talle vrae oor die moord op die vyfjarige Ditebogo Phalane van Soshanguve wat doodgeskiet is tydens ‘n kaping van sy pa se voertuig. Die koerant skryf wetstoepassingsagentskappe maak teenstrydige inligting bekend oor die vier verdagtes wat in hegtenis geneem is.
# En The Citizen:
Lei met: “SA’S EVIL HIT PARADE”. Die koerant skryf met die naderende verkiesing is politieke sluipmoorde is besig om toe neem.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig AfriForum is van mening die uitsprake van die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga dat die Bela-wet nie Afrikaanse skole bedreig nie, is oëverblindery. Volgens die organisasie is die publiek nie so naïef om die minister te glo nie.
En tweedens skryf die koerant oor die 64-jarige Dianne Andrews van Sasolburg wat in die hof verskyn het nadat sy ANC-verkiesingsplakkate met haar kierie bygedam het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die naasbestaandes van die 11 vissers wat vermoedelik omgekom het toe die vistreiler FV Lepanto gesink het, wil weet hoekom die soektog en ondersoek voortydig afgelas is. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy sê die skip se wrak lê te diep en duikers kan nie liggame verwyder nie.
Dan skryf die koerant die liggaam van die 63-jarige Benita Joy Brink-Lawrence is in ‘n stuk veld in Victoriabaai naby George gevind. Sy word sedert 15 Januarie vermis en daar is ‘n lasbrief vir haar inhegtenisneming weens beweerde bedrog uitgereik.
Voorts is daar ‘n berig oor die afname in misdaadvoorvalle op Tafelberg nadat bykomende sekerheidspersoneel ontplooi is.
En laastens is daar nuus oor die boetevrye week by Kaapstad se biblioteke. Sowat 2,2-miljoen-rand se items is terugbesorg aan die biblioteke.
# En Cape Times:
Skryf ook oor Creecy se inligtingsessie oor die vistreiler FV Lepanto.
En berig volgens ‘n nuwe peiling kan ‘n koalisie die land ná die verkiesing lei.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig beweerde seksuele misdrywe wat van 1974 tot 1979 gepleeg is, gaan nou ná 50 jaar vervolg word nadat die hof besluit het die saak kan voortgaan.
En tweedens skryf die koerant die bewaringsorganisasie Global Humane het sy raadsvoorsitter tydens ‘n geleentheid by die Nyosi-wildreservaat vereer.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Nomusa Dube-Ncube moes tydens ‘n verkiesingsvergadering bontstaan om vrae te beantwoord oor haar beloftes oor misdaadbekamping en werkskepping.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië ontken bewerings dat sy verkrygingsprosedures die rede is waarom openbare gesondheidsfasiliteite al vir etlike jare reusetekorte aan medisyne ondervind.
En tweedens skryf die koerant volgens ’n verslag van die Namibiese Kamer van die Omgewing moet ’n volledige strategiese omgewingsevaluering uitgevoer word om die uitwerking op die grond- en mariene lewe van huidige en toekomstige waterstofprojekte in Namibië te bepaal.