Nuus 07:00
BULLETIN 23 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verwelkom die Regterlike Dienskommissie se steun aan Mandisa Maya as volgende hoofregter
# Anglo American verwerp BHP se derde aanbod
# En Alan Winde sê die ondersoek na die ineenstorting van die gebou in George vorder goed
# President Cyril Ramaphosa het die Regterlike Dienskommissie se aanbeveling van adjunkhoofregter Mandisa Maya as die volgende hoofregter verwelkom. Die president het Maya as Raymond Zondo se opvolger benoem. Hy tree in Augustus af nadat sy 12-jaar-termyn verstryk. Maya sal die eerste vrou wees wat in die amp aangestel word. Ramaphosa het na ‘n Siyanqoba-saamtrek in Mpumalanga gesê hy is bly haar onderhoud met die kommissie het goed afgeloop:
# Anglo American se raad het ʼn derde uitkoop-aanbod van die mynreus, BHP, verwerp. Hy bied nou 900-miljard-rand aan teenoor sy tweede aanbod van 782-miljard-rand. Die aanbod het steeds dieselfde ingewikkelde struktuur. BHP vereis dat Anglo eers twee aparte ontbondelings van sy aandeelhouding in Anglo American Platinum en Kumba Iron Ore Limited afhandel. Die Anglo-raad sê hy glo steeds daar is ernstige kommer oor die struktuur omdat dit moontlik ʼn voltooiingsrisiko vir materiale kan inhou.
# Die Stad Johannesburg se raad het uiteindelik die begroting van 83,1-miljard-rand vir die 2024/2025-boekjaar goedgekeur. Dit is met 145 stemme aanvaar terwyl tien daarteen gestem het. Die begroting is nie verlede week aanvaar nie omdat lede van die heersende koalisie, die regering van plaaslike eenheid wat uit die ANC, EFF, Patriotic Alliance en ander partye bestaan, nie oor toewysings in die begroting kon saamstem nie. Die stad sê die begroting is inklusief en maak al die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan se doelwitte ʼn werklikheid.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die ondersoek na die gebou wat in George ingetuimel het, vorder goed. Vier-en-dertig konstruksiewerkers is op die sesde van die maand dood toe die gebou van vyf verdiepings ineengestort het. Die soek-en-reddingsoperasie is Vrydag afgehandel en die terrein is aan die polisie oorhandig. V3 Consulting Engineers lei die provinsiale regering se ondersoek. Winde sê dis hulle verantwoordelikheid om seker te maak alles moontlik word gedoen om ʼn soortgelyke tragedie te voorkom:
# Die Anglikaanse aartsbiskop Thabo Makgoba verwelkom die Internasionale Strafhof se besluit oor beweerde oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom tydens die konflik in Gaza. Die hof vra lasbriewe vir inhegtenisneming vir die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu, sy minister van Verdediging Yoav Gallant, en drie leiers van Hamas. Makgoba het gepraat by die Universiteit van die Wes-Kaap en die besluit geprys as ‘n belangrike stap in die versekering van aanspreeklikheid vir alle partye, onder internasionale humanitêre wette, ongeag die affiliasies van die oortreders.
# Tennis: André Agassi is aangekondig as Span Wêreld se nuwe Laver-bekerkaptein van volgende jaar af. Die Amerikaanse wenner van agt Grand Slam-titels volg sy landgenoot John McEnroe op, wat die span gelei het sedert die kompetisie in 2017 begin het. Björn Borg van Swede, wat Wimbledon vyf agtereenvolgende jare sedert 1976 gewen het, is tans kaptein van Span Europa, maar die Switserse legende Roger Federer sal hom waarskynlik volgende jaar vervang. Europa het die eerste vier toernooie gewen, en Wêreld, die volgende twee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-494-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-371-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….