Goeie Nuus
BULLETIN 22 Mei Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrika se uitstalling op die Chelsea-blommeskou in Londen het goud gewen. Die inskrywing is deur die windverwaaide hange van die Kaapse berge geïnspireer. Ontwerper Leon Kluge en kunstenaar Tristan Woudberg het ‘n groep vrywilligers gelei om vanjaar se veelbekroonde uitstalling saam te stel, wat groot kleibeelde insluit as agtergrond vir fynbos-snyblomme. Dit is Suid-Afrika se 38ste goue medalje op die skou sedert 1976. Kluge sê hulle het 22-duisend stele vir die uitstalling gebruik:
# ‘n Organisasie wat hom beywer vir geletterdheidsbewustheid, Book Dash, het ‘n belangrike mylpaal behaal met die druk van 600-duisend kinderboeke wat dit die grootste oplaag tot nou toe maak. Dit is deel van sy verbintenis tot die bevordering van geletterdheid onder Suid-Afrikaanse jeug. Book Dash, wat die belangrikheid van toegang tot storieboeke vir alle kinders erken, versprei gratis boeke aan minderbevoorregte kinders. Vrywillige kreatiewe spanne het die afgelope paar jaar meer as 128 oorspronklike storieboeke in elf inheemse tale geskep.
Intussen stel die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, tans sy nuwe boek Dare to Believe op ‘n nasionale toer bekend. Die boek is gisteraand in Sandton, Johannesburg, onthul. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê Maimane sal biblioteke in Alexandra besoek om uitgawes van sy nuwe boek te skenk:
# Kgaugelo Modise het die eerste vrou geword wat ʼn doktorsgraad in bedryfsingenieurswese by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie ontvang. Haar tesis se titel is: Ontwikkeling van ʼn voorspelbare model vir energie- en koolstofdoeltreffendheid vir toekomstige ondernemings in vervoervervaardiging. Modise sê sy hoop haar prestasie sal jong meisies aanmoedig om loopbane in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde te volg. TUT sê haar baanbrekerswerk bewys die mag van uithouvermoë, toewyding en harde werk.
# En, die gewilde Glastonbury-fees vind vanjaar weer plaas met die bekendstelling van twee unieke persele in Somerset, Engeland. Vermaakkunstenaars soos Dua Lipa en die rock-konings, Coldplay, sal van die trekpleisters wees wanneer die fees op die 26ste van volgende maand afskop. Organiseerders sê die Wishing Well-perseel sal ʼn plek wees waar mense hul diepste begeertes kan loslaat, terwyl Scissors beskryf word as ʼn heerlike femme-queer-venue. Hierdie twee persele vervang die legendariese Rabbit Hole.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….