Eko-minuut 13:30
BULLETIN 22 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank sê die land moet sy produksie se koolstof-intensiteit vinnig verminder. Die instelling sê in sy verslag die land se ekonomiese groei kan ernstig geraak word as koolstofbelasting op groot skaal op sy uitvoere gehef word. Die Reserwebank sê dit kan selfs tien-persent van uitvoere teen 2050 benadeel. Suid-Afrika dra slegs een-persent by tot wêreldwye kweekhuisgasvrystellings, maar die ekonomie se koolstof-intensiteit is die hoogste van enige Groep 20-nasie.
# Suid-Afrika se groen waterstof en ammoniakprojek van 105-miljard-rand in die Oos-Kaap gaan nou gerugsteun word deur nege sonkragprojekte in De Aar in die Noord-Kaap. Die produksie van een-miljoen-ton groen ammoniak per jaar sal skoon energie verskaf en help met die vermindering van koolstof in swaar nywerhede en die vervoerbedryf. Dit sal die streek se hernubare energiebronne, die grond, hawe-infrastruktuur en minerale inspan om ‘n waterstof-vallei te skep.
# En, dis vandag Internasionale Dag vir Biologiese Verskeidenheid en die tema is: Wees deel van die plan. Die doel is om regerings, gemeenskappe, nie-regeringsorganisasies, wetgewers en sakeondernemings aan te moedig om te wys hoe hulle die instelling van die Bioverskeidenheidsplan ondersteun. Die plan stel doelwitte en tasbare maatreëls om verlies aan die natuur teen 2050 om te keer en te stop. Die Verenigde Nasies sê ondanks al die tegnologiese vordering is almal vir hulle kos, water en energie volkome afhanklik van gesonde en lewenskragtige ekostelsels.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….