Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Die Springbokke begin vandag in Kaapstad met hulle tweede persoonlike belyningskamp – ‘n maand voor hulle eerste toets van die jaar op 22 Junie teen Wallis in Londen. ‘n Groep van 38 spelers is byeen vir die tweedaagse kamp. Spelers van die Haaie wat Vrydag in die eindstryd van die Uitdaagbekerkompetisie teen Gloucester speel, is van die kamp verskoon. Die kamp volg op ‘n tweedaagse strategie-vergadering vir afrigters die afgelope naweek waartydens voorbereiding vir die kamp afgehandel is.
Die Bokke en die Stormers moet intussen vier maande sonder die veelsydige agterspeler Damian Willemse klaarkom. Hy het sy vingerligamente beseer tydens die oorwinning oor Connacht, wat die Stormers ‘n plek in die uitspeelronde van die Verenigde Rugbykampioenskap besorg het. Hy sal na verwagting môre ‘n operasie ondergaan. Willemse sal die res van die VRK-seisoen, die Bokke se toetse in Junie en Julie, en die Rugby-kampioenskap misloop.
# Krieket: Kolkata Knight Riders het seker gemaak van sy plek in Sondag se eindstryd van die Indiese Premierliga met ‘n oorwinning met agt paaltjies oor Sunrisers Hyderabad in die eerste kwalifiseerder. Venkatesh en Shreyas Iyer het albei ‘n onoorwonne 50-tal aangeteken nadat die Australiese snelbouler Mitchell Starc drie paaltjies laat kantel het om Sunrisers te help uitboul vir slegs 159. Kolkata het die teiken in die 14de boulbeurt behaal met slegs twee paaltjies plat. Starc was tevrede met die vertoning:
# Gholf: Die polisie in Louisville sê hulle gaan ondersoek instel of die regte prosedures gevolg is toe die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, by die PGA-kampioenskap in hegtenis geneem is. Die Amerikaner is Vrydag aangekeer nadat hy in swaar verkeer probeer het om by die Valhalla-gholfklub in te ry. Die 27-jarige speler word aangekla van aanranding, misdadige optrede en dat hy ‘n verkeersbeampte geïgnoreer het. Scheffler ontken alle aanklagte. Louisville se polisiehoof, Jacquelyn Gwinn-Villaroel, sê enige beleidsoortredings sal behoorlik hanteer word.
# En, sokker: Chelsea se bestuurder, Mauricio Pochettino, het sy pos na net een sy seisoen verlaat met wedersydse instemming. Die 52-jarige Argentyn het die Blues na die Carabao-beker-eindstryd, die FA-beker-halfeindronde en ʼn sesde plek in die Premierliga gelei. Pochettino sê die klub is nou goed op dreef om in die jare wat kom vooruit te gaan in die Premierliga en Europa. Moontlike plaasvervangers sluit in Kieran McKenna van Ipswich, Enzo Maresca van Leicester, en Sebastian Hoeness van Stuttgart.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….