Nuus 07:00
BULLETIN 22 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Media Monitoring Africa waarsku dat fopnuus die demokratiese verkiesing bedreig
# Die VN doen ‘n beroep op die beëindiging van die humanitêre ramp in Gaza
# En rugby: Die kaptein van die Haaie sal die Uitdaagbeker-eindstryd misloop
# Media Monitoring Africa waarsku die toename in verkeerde inligting en fopnuus op sosiale media hou ‘n bedreiging in vir ‘n demokratiese verkiesing. Die organisasie werk saam met die Verkiesingskommissie om hierdie kwessies te bekamp deur inisiatiewe soos Real411, waarvolgens verkeerde inligting bekend gemaak word om ‘n geloofwaardige verkiesing te verseker. Die kommunikasiebestuurder, Nomshado Lubisi-Nkosinkulu, sê dit word al hoe moeiliker om die werklikheid van fopnuus te onderskei. Die land is aan die vooraand van sy sewende demokratiese verkiesing en Lubisi-Nkosinkulu sê digitale skade is onvermydelik en kan die integriteit van die verkiesingsproses ondermyn.
# Die Nasionale Unie van Mynwerkers van Suid-Afrika het besluit om ‘n politieke standpunt in te neem met die komende nasionale verkiesing. Die hoofsekretaris, Irvin Jim, sê gegewe die verslegtende sosio-ekonomiese situasie vir die werkersklas, wil die vakbond kiesers bystaan met die stemkeuses wat hulle het en raai hulle af om regse partye wat die regte van werkers misken, te ondersteun. Jim raai werkers aan om nie vir individuele kandidate te stem of vir partye wat xenofobie en rassisme voorstaan nie:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering is daartoe verbind om seker te maak jong mense het die nodige vaardighede en kwalifikasies om werk te kry. Hy het gister die Suid-Afrikaanse Nasionale Diensinstelling in Pretoria bekendgestel. Volgens die jongste kwartaallikse arbeidsmag-peiling is die grootste werkloosheidsyfer onder jeugdiges van 15 tot 24 jaar en 25 tot 34 jaar met onderskeidelik 59,7-persent en 40,7-persent. Mashatile sê die regering sal daarop fokus om die jeug op te lei in sektore met groot indiensnemingsmoontlikhede sodat hulle werk kan kry.
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, besoek vandag die Medupi- en Matimba-kragstasies in Lephalale, Limpopo. Dis deel van die minister se voortgesette pogings om erkenning en waardering te betoon vir personeel se harde werk om opwekkingsprestasie te verbeter. Die land het die afgelope tyd meer as 50 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag beleef. Eskom se energie-beskikbaarheidsfaktor het nou die eerste keer in jare die 70-persent-kerf bereik.
# Die Verenigde Nasies se Kantoor vir die Koördinering van Humanitêre Sake sê die sterftes, beserings en verwoesting in Gaza is uiters immoreel. Hamas het op sewe Oktober verlede jaar sowat een-duisend-200 mense, meesal burgerlikes, vermoor en nog 250 gyselaar geneem. Meer as 35-duisend mense is in Gaza dood. Edem Wosornu van die VN sê terwyl die konflik voortduur en lewens bedreig word, moet burgerlikes toegelaat word om beskerming te soek:
# Rugby: Die Haaie gaan Gloucester aanpak sonder hulle kaptein, Lukhanyo Am, in Vrydag se Uitdaagbeker-eindstryd in Londen. Die Springboksenter kan ‘n geruime tyd buite aksie wees nadat hy vroeër die maand ‘n skouer- en ribbesering opgedoen het tydens die Verenigde Rugbykampioenskaps-nederlaag teen Benetton in Durban. Sy deelname aan die Bokke se komende toetse is ook in gedrag. Twee ander Wêreldbekerwenners, Eben Etzebeth en Vincent Koch, is weer fiks en kan Vrydag speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-275-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-425-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….