Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Health Justice Initiative het nuwe besonderhede oor Suid-Afrika se Covid-19-entstoftransaksies vrygestel. Dit het nou aan die lig gekom hoe die Covid-19-entstofvervaardiger, Pfizer die land na bewering gedwing het om duur te betaal om vertragings te voorkom.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga sê bewerings dat die nuwe Bela-wet Afrikaans in skole wil vernietig, is ongegrond. Sy sê moedertaalonderrig is baie belangrik en haar departement wil juis by Afrikaanse skole leer van hul sukses.
Tweedens skryf die koerant die gemiddelde Suid-Afrikaner verloor twee-rand-90 per minuut terwyl hulle by ‘n stukkende verkeerslig wag. Die Wrap-inwonersvereniginging in Johannesburg onderhandel nou met ondernemings om verkeersligte in die gebied aan te neem en van krag te voorsien.
En laastens is daar foto’s van Suid-Afrika se Olimpiese drag vir Frankryk.
# The Star en Pretoria News:
Skryf Suid-Afrika ondersteun die Wêreldhof se plan om lasbriewe uit te reik vir Israelse en Hamas-leiers.
En berig die adjunk-hoofregter, Mandisa Maya, word voorberei om in September die pos van hoofregter oor te neem.
# En Sowetan:
Berig regter Maya sê sy sal aandag gee aan die toenemende werklading van regters en die swak hofinfrastruktuur en veiligheid indien sy aangewys word as hoofregter.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met Angie Motshekga se uitsprake oor die Bela-wet.
En tweedens skryf die koerant oor die DA-leier, John Steenhuisen se besoek aan die verhoor van die Hartswater-moordsaak in Kimberley om die naasbestaandes van die Brand-gesin te ondersteun.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig oor basiese onderwys as Beeld en Volksblad.
En tweedens berig die koerant een persoon is dood en een word vermis nadat ‘n vissersboot in St Helenabaai aan die Weskus omgeslaan het. Twee van die mans kon daarin slaag om die strand te haal.
# En Cape Times:
Skryf soos Die Burger oor die verdrinking in St Helenabaai en berig dis die tweede seetragedie in twee dae.
En berig ongeplaasde leerders in die Wes-Kaap moet nou ingevolge ‘n hofbevel binne tien dae by skole geplaas word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die president van die National Alliance, Gary van Niekerk dreig met regstappe teen die GOOD-party omdat ‘n faksie van die NA besluit het om GOOD te ondersteun.
En tweedens skryf die koerant die familie van ‘n vrou van Nelson Mandelabaai het talle vrae nadat sy na bewering vir 24 uur sterwend op ‘n draagbaar gelê het sonder doktersbehandeling.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die ANC loop die gevaar om baie steun in KwaZulu-Natal te verloor in gemeenskappe wat ernstige waterprobleme het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die staat beskuldig een van die Fishrot-beskuldigdes, Tamson Hatuikulipi, dat hy die borgtog-aansoekproses misbruik.
En tweedens skryf die koerant sy voormalige nuusredakteur, Ronelle Rademeyer is oorlede. Sy word deur honderde boodskappe gehuldig vir haar onverskrokke joernalistiek, menswees, empatie en deernis.