Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# ‘n Aktivis sê die ANC het ineengestort omdat hy weggebreek het van sy bevrydingsbeweging-karakter
# IVP-leiers poog om ‘n suksesvolle toekoms vir kinders te verseker
# En, tennis: Die Franse Ope-enkelspelkampioene kry tjeks van 47,3-miljoen-rand elk
# ‘n Politieke aktivis, Raymond Suttner, glo die ANC se ineenstorting is te wyte aan die party wat wegbreek van sy bevrydingsbewegings-karakter. Hy het in ‘n rubriek gesê die ANC, eens ‘n bevrydingsbeweging met ‘n beduidende gewilde grondslag, is omskep in ‘n doodgewone politieke party en het afstand gedoen van sy voetsoolvlak. Suttner sê die regerende party is deur Westerse raadgewers beïnvloed, en daarom verskuif na ‘n model wat voorkeur gee aan modernisering en normalisering, wat lei tot ‘n gaping tussen die leierskap en die mense:
Die IVP se leierskap het intussen vandag ‘n veldtog gevoer in Kwa-Mashu in die eThekwini Metro in KwaZulu-Natal,en die behoefte aan ‘n veilige toekoms vir Suid-Afrikaanse kinders beklemtoon. Die party het ten doel om die provinsie, wat hy in 2004 aan die ANC afgestaan het, terug te eis en beheer oor die 5,7-miljoen stemme te neem voor die algemene verkiesing oor sewe-dae. Die IVP se premierskandidaat, Thami Ntuli, sê die party het steun ontvang en bepleit ‘n verandering in leierskap:
# Die Suid-Afrikaanse Sionistefederasie veroordeel die besluit van die Internasionale Geregshof om lasbriewe aan te vra vir die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu, en die minister van Verdediging, Yoav Gallant. Hulle voer aan die besluit word deur politiek aangevuur en oorskadu die herinneringe aan die meer as een-duisend-200 Israeli’s wat verlede jaar deur Hamas vermoor is. ‘n Woordvoerder van die federasie, Rolene Marks, verwerp die besluit en sê daar kan geen morele gelykstelling wees tussen Israel en Hamas nie:
# ‘n Drie-en-sewentigjarige Britse man is dood en meer as 30 mense beseer toe ‘n vlug van Singapore Airlines vanaf Londen na Singapoer ‘n lugholte getref het. Sewe van die beseerdes is ‘n ‘n bedenklike toestand. Vlugopsporingsdata toon vlug SQ 321 het oor die Baai van Bengale meer as een-duisend-800-meter van sy kruishoogte geval. ‘n Passasier het aan Reuters gesê die vliegtuig het skielik begin kantel, gevolg deur ‘n baie dramatiese val. Mense wat nie gesit of sitplekgordels aangehad het nie, het onmiddellik teen die plafon opgeskiet.
# Tennis: Die algehele prysgeld vir vanjaar se Franse Ope is 1,05-miljard-rand – ‘n styging van 7,8-persent teenoor verlede jaar. Die mans- en vroue-enkelspelkampioen sal elk 47,3-miljoen-rand ontvang. Selfs spelers wat in die eerste ronde op Roland Garros uitgeskakel word, gaan nie met leë hande huis toe nie en sal elk 1,4-miljoen-rand ontvang. Die kwalifiseringstoernooi vind tans in Parys plaas terwyl die hoofloting Sondag begin. Die wenners word die naweek van 8 en 9 Junie op die Philippe Chatrier-baan gekroon. Die keurings en wedstrydbepalings word later dié week aangekondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-808-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-428-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….