Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Mei
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Distrik Ses-museum in Kaapstad het as deel van sy 30-jarige herdenking ‘n meesleurende virtuele belewenis vir besoekers bekendgestel. Die ervaring in samewerking met Loud Rabbits Agency en alumni van Friends of Design, wil die noodsaaklikheid beklemtoon om by die digitale era aan te pas. Die projek wil ook ʼn jonger gehoor trek terwyl die woongebied se geskiedenis bewaar word. Die museum is van Maandae tot Vrydae oop van nege tot vier.
# Die Fogarty-internasionale sentrum van die Amerikaanse Nasionale Instituut van Gesondheid het ʼn professor aan die Universiteit Stellenbosch ʼn toelaag van 28-miljoen-rand oor vyf jaar toegestaan. Dit moet gebruik word vir die multidissiplinêre, internasionale en interkontinentale Afrika-MIV-opleidingsprogram bekend as Next Generation Training in HIV Research. Professor Clive Gray sal ʼn opleidingsprogram begin om die immuunstelsels van MIV-positiewe ma’s en hul pasgebore babas in Afrika te ondersoek. Gray sê hulle verwag om altesaam 45 studente van die Universiteit Stellenbosch en sy Afrika-vennote op te lei.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Beweeglikheid, Ricardo Mackenzie, sê meer as 80 sakeondernemings werk saam met die provinsiale regering aan sy Kry JOU by die Werk-veldtog. Dit bied werksoekers gratis vervoer na onderhoude op die Golden Arrow-busdiens. Deelnemende werkgewers kan tydens die werwingsproses gratis reisbewyse aan kandidate skenk en sodoende toegang tot werksgeleenthede verbeter. Mackenzie sê hulle doen alles moontlik om die provinsiale ekonomie te laat groei, werk te skep en werkloosheid te takel.
# Die Mogale Christelike stigting het ‘n winterliefdadigheidsprojek gereël om noodsaaklike wintersklere en nie-bederfbare voedsel aan behoeftiges in Soshanguve, Pretoria, te voorsien. Kinders by die Luvuyo-dagsorgsentrum en -kinderhuis sal deur die projek begunstig word. Die stigting sê hy spits hom toe op die verryking van jong lewens deur middel van skool-hulpprogramme en volhoubare steun aan kinderhuise.
# En ten slotte: Die Litterboom-projek met sy vernuwende benadering tot die bestuur van afvalplastiek in die omgewing sê hy wil skole help om geld deur middel van herwinningsprojekte in te samel en ekovriendelike gedrag aanmoedig. Herwinningstasies is onlangs by die Laerskool Slangspruit en die Hoërskool Linpark in KwaZulu-Natal aangebring vir die veldtog “Herwinningskrag in aksie“. Die projek lig leerders in oor die waarde van afval, en sluit ‘n plastiek-neutrale veldtog in om plastiekafval te beperk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….