Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# Die Regterlike Dienskommissie beveel drie regters vir die Appèlhof aan
# Die ANC veroordeel ‘n skietvoorval tydens ‘n veldtog in Limpopo
# En, krieket: Die Windies se tussentydse kaptein is gereed vir die T20-reeks teen Suid-Afrika
# Die Regterlike Dienskommissie het die Gautengse Hooggeregshof-regters David Unterhalter en Raylene Keightley, en die Oos-Kaapse Hooggeregshof-regter John Smith aanbeveel vir die Appèlhof. Hierdie aanbevelings volg nadat onderhoude met tien regters gevoer is vir drie vakatures. Unterhalter het kommer uitgespreek oor die ampsaanklagte teen oudregters John Hlophe en Nkola Motata, maar glo steeds die publiek se vertroue in die regbank bly sterk. Regter Piet Koen van die Hooggeregshof in KwaZulu-Natal, wat homself onttrek het aan oudpresident Jacob Zuma se korrupsie-verhoor, is nie aanbeveel nie.
# Die ANC in Limpopo vra geregtigheid ná ‘n gewelddadige geveg in Juju-vallei in Seshego, waarin twaalf mense beseer is, insluitend ‘n negejarige meisie. Die ANC beskuldig die EFF dat gewapende mense Sondag blykbaar gemobiliseer is om hul veldtog te ontwrig. Die regerende party het die polisie versoek om die oortreders vas te trek, en die Verkiesingskommissie om teen die EFF op te tree vir die aanhitsing van geweld. Woordvoerder Jimmy Machaka het die ANC se verbintenis tot vreedsame betrokkenheid herbevestig en ondersteuners aangemoedig om op hul verkiesingswerk gefokus te bly.
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wil handel tussen Suid-Afrika en die Oshoek-grenspos met Eswatini verbeter. Die kommissaris van die SAID, Edward Kieswetter, sê na die uitreiking van die Tydvrystellingstudie die twee lande is op koers om bedryfsdoeltreffendheid te bereik. Die plan is om die wagtyd vir vrag van meer as ‘n uur en ‘n half te verminder tot tien-minute. Kieswetter is tevrede met die plan:
# Die driedaagse begrafnis van die Iranse president, Ebrahim Raisi, begin vandag in Tabriz en verskuif vanmiddag na Qom. Hy het Sondag in ‘n helikopterongeluk gesterf. ‘n Afskeidseremonie word vanaand by die Imam Khomeini-moskee in Teheran gehou. Môre beweeg die stoet vanaf die Teheran-universiteit na Azadi-plein, gevolg deur ‘n hoëvlak seremonie en nog een in Birjand voor sy begrafnis Donderdag in Mashdad. ‘n Nasionale routyd van vyf dae is afgekondig, asook ‘n nasionale vakansiedag volgende maand. Goewerneurs mag ook provinsies sluit waar begrafnisseremonies gehou word.
# Krieket: Brandon King sê hy is opgewonde om die Wes-Indiese Eilande te lei, veral tuis. Die 29-jarige sal die Karibiese span aanvoer in die komende reeks van drie T20-wedstryde teen Suid-Afrika op Sabinapark in sy vaderland, Jamaika. Die eerste kragmeting vind Donderdag plaas. Die tuisspan se gereelde kaptein, Rovman Powell, speel nog in die Indiese Premierliga. King sê die reeks is hul laaste kans om vir volgende maand se T20-Wêreldbekertoernooi voor te berei:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-34-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-418-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….