Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Mei 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerste aan die beurt vandag is rugby: Die president van SA Rugby, Mark Alexander sê hulle is stewig op pad na transformasie. ’n Omvattende oudit van 206 bladsye wat deur Saru saamgestel is, dui daarop dat die Bokke nie die teikens van 54-persent bereik het in enige van die drie reekse wat hulle verlede jaar gespeel het nie. Alexander sê hoewel die Springbokke demografiese teikens het, het hulle ook prestasieteikens wat nie opgeoffer kan word nie. Hy sê hervorming is ’n voortdurende proses op alle vlakke van die sport in die land.
# Vervolgens, atletiek: Die Suid-Afrikaanse middelafstandatleet Prudence Sekgodiso sê sy wil deurdring na die eindronde van die 800-meter op die Olimpiese Spele in Parys. Sy erken sy het haarself verras toe sy die item Sondag gewen het op die Diamantligabyeenkoms in Marrakesj, Marokko, in die vinnigste tyd vanjaar. Die 22-jarige Sekgodiso sê sy het nie verwag om so vinnig te hardloop nie. Sy het haar beste persoonlike tyd met 39 sekondes verbeter tot een-minuut-57,26-sekondes. Dit was die eerste Diamantligaoorwinning van haar loopbaan.
# Krieketnuus: Die eerste kwalifiserende wedstryd van die Indiese Premierliga word vandag gespeel. Kolkata Knight Riders en Sunrisers Hyderabad, wat eerste en tweede op die punteleer geëindig het, pak mekaar in Ahmedabad. Die wenner dring deur na Sondag se eindstryd in Chennai. Die verloorder kry nog ‘n kans op die titelwedstryd in Vrydag se tweede kwalifiseerder in Chennai. Daardie span speel teen die wenner van môre se uitklopstryd tussen die derde en vierde spanne, Rajasthan Royals en Royal Challengers Bengaluru, ook in Ahmedabad.
# Sokker is volgende aan die beurt: Liverpool het Arne Slot as hul nuwe hoofafrigter aangestel met ‘n kontrak vir drie jaar. Die Feyenoord-hoof vervang Jurgen Klopp, wat Sondag in beheer was van sy laaste wedstryd teen Wolves, nadat die Duitser die afgelope nege jaar op Anfield was. Slot het in April die Nederlandse Beker beklink en Feyenoord in die 2022/’23-seisoen tot hul eerste titel in ses jaar gelei. Die 45-jarige Slot sê dit was moeilik om ʼn geleentheid te ignoreer om by een van die beste klubs in die wêreld ʼn Premierliga-hoofafrigter te word.
# En, ons sluit af met gholf: Die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, se hofverskyning is tot 3 Junie uitgestel. Die Amerikaner is Vrydag kort voor sy tweede ronde in die PGA-kampioenskap in hegtenis geneem nadat hy deur swaar verkeer by die Valhalla-gholfklub wou inry. Scheffler word onder meer aangekla van aanranding, roekelose bestuur en die verontagsaming van ‘n verkeersbeampte. Hy ontken alle klagtes teen hom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….