Nuus 11:00
BULLETIN 21 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum en Solidariteit verskerp hul optrede teen die BELA-wetsontwerp
# BLSA sê die Nasionale Gesondheidsversekering bedreig die land se kanse om ‘n streeksakesentrum te word
# En Biden kritiseer die Internasionale Strafhof se poging om ‘n lasbrief vir Netanyahu te bekom
# AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit-skoleondersteuningsentrum verskerp hulle druk op die regering oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette met ‘n griefskrif aan president Cyril Ramaphosa. Hulle dring aan Ramaphosa moet nie die wetsontwerp onderteken nie en dit terugstuur na die Nasionale Vergadering. Solidariteit se adjunk-uitvoerende bestuurder van regsake, Anton van der Bijl, waarsku die wysigings aan die wetsontwerp bedreig eentalige Afrikaanse skole se oorlewing en kan hofsake tot gevolg hê as dit onderteken sou word.
# Business Leadership SA sê die Nasionale Gesondheidsversekering sal die privaat en openbare gesondheidstelsels beskadig en ‘n geleentheid misloop om beter gesondheidsorg vir almal te bied. President Cyril Ramaphosa het die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering verlede week as wet bekragtig. Die organisasie se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê daar is eenvoudig geen fondse vir die NGV nie, en die tragedie is daar is wel werkbare maniere om universele gesondheidsorg te lewer. Mavuso sê die NGV bedreig die land se ambisie om ʼn streekskern vir sakeondernemings reg oor Afrika te word.
# Die Valke het nog twee verdagtes vasgetrek vir die moord op die vyfjarige Ditebogo Junior Phalane. Hy is vroeër die maand doodgeskiet toe sy pa se bakkie buite hul huis in Soshanguve, Tshwane, gekaap is. Woordvoerder Wendy Nkabi sê hulle het inligting ontvang oor die verdagtes en twee mans van 29- en 30-jaar aangekeer. Vier mense is nou in hegtenis geneem. Nkabi sê hulle het ook op twee ongelisensieerde vuurwapens beslag gelê:
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, beskryf die aanklaer van die Internasionale Strafhof se aansoek vir lasbriewe om Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, en sy minister van Verdediging in hegtenis te neem, as verregaande. Die hof se hoofaanklaer, Karim Khan, versoek ook lasbriewe vir die inhegtenisneming van drie Hamas-leiers. Dit is vir vermeende oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in Israel en Gaza. Biden sê Israel doen alles in sy vermoë om burgerlikes te beskerm:
# Krieket: Die eerste kwalifiserende wedstryd van die Indiese Premierliga word vandag gespeel. Kolkata Knight Riders en Sunrisers Hyderabad, wat eerste en tweede op die punteleer geëindig het, pak mekaar in Ahmedabad. Die wenner dring deur na Sondag se eindstryd in Chennai. Die verloorder kry nog ‘n kans op die titelwedstryd in Vrydag se tweede kwalifiseerder in Chennai. Daardie span speel teen die wenner van môre se uitklopstryd tussen die derde en vierde spanne, Rajasthan Royals en Royal Challengers Bengaluru, ook in Ahmedabad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-200-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-410-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….