Nuus 18:00
BULLETIN 20 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die persoon wat in Gauteng dood is na hy na bewering in ‘n koelkamer toegesluit is, was 33
# ‘n Verslag van AfriForum toon daar was byna een plaasmoord per week in 2023
# En, tennis: Mauresmo beskryf Nadal se 14 Roland Garros-titels as een van sport se grootste prestasies
# Die persoon wat in Heidelberg, Gauteng, dood is na hy na bewering gister elf-uur lank toegesluit was in ‘n supermark se koelkamer, was ‘n 33-jarige man en nie ‘n 13-jarige seun, soos voorheen berig is nie. Die polisie het die man uitgeken as Bandile Shabalala. ‘n Bestuurder van Shoprite het hom glo in die vertrek toegesluit nadat daar bevind is hy het sjokolade gesteel. News24 berig sy twee vriende het gevlug toe sekerheidsbeamptes hom aangekeer het. Shabalala se liggaam is vanoggend buite ‘n begrafnisondernemer aangetref.
# AfriForum se jaarlikse verslag oor plaasaanvalle en -moorde toon 49 plaasmoorde in 296 aanvalle in 2023. Die hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, sê dit is sowat een moord per week. Broodryk kritiseer die regering en die polisie vir hulle dubbele standaarde met die voorkoming van, en ondersoek na dié misdade. Hy vra die regering vir ‘n spesiale ministeriële taakspan vir plaasmoorde:
Intussen raai die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling boere aan om nie diere op hul grond toe te laat sonder veeartsenykundige gesondheidsklarings by diere se oorsprong nie. Die departement se woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê die virus wat die uitbreking van bek-en-klouseer op ‘n plaas in Humansdorp in die Oos-Kaap veroorsaak het, is amper identies aan die een wat gelei het tot wydverspreide uitbrekings in Limpopo, Noordwes, Vrystaat, Gauteng en Mpumalanga in 2021 en ’22:
# Die stigter van WikiLeaks, Julian Assange, het ‘n aansoek gewen om te appelleer teen ‘n Britse hofuitspraak wat sy uitlewering aan die Verenigde State goedgekeur het, om verhoor te word vir die oortreding van nasionale veiligheidswette. Twee regters van die Hoërhof in Londen het Assange toestemming verleen om te appelleer, nadat hulle Washington voorheen gevra het om bevredigende versekering te gee oor vrye spraakbeskerming in enige Amerikaanse verhoor. Amerika wil die hoof van die verklikkers-organisasie WikiLeak vervolg vir die publisering van honderde-duisende geheime Amerikaanse dokumente sedert 2010.
# Tennis: Die toernooidirekteur van die Franse Ope, Amelie Mauresmo, beskryf Rafael Nadal se 14 titels op Roland Garros as een van die grootste triomftogte in sport. Die voormalige wêreld nommer eenspeler sê dit is onwerklik om dit te kon doen in ‘n Grand Slam-toernooi op ‘n oppervlakte wat waarskynlik die uitdagendste van almal is. Mauresmo hoop die Spaanse kampioen sal vanjaar vir oulaas kan speel, maar besef sy liggaam sal bepaal of hy sal kan terugkeer na wat sy beskryf as sy tuiste.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-833-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-417-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….