Nuus 16:00
BULLETIN 20 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK sê Zuma se foto bly op die stembrief na die Konstitusionele Hof se beslissing
# Die DA dien ‘n klagte in teen die NGV-skema
# En, boks: Usyk kan sy onbestrede swaargewigkampioentitel binne twee weke verloor
# Die Verkiesingskommissie sê oud-president Jacob Zuma se foto sal op stembriewe bly, al is sy naam verwyder as ‘n kandidaat van die MK-party. Dit volg op ‘n uitspraak van die Konstitusionele Hof wat die kommissie se rol uitklaar oor kandidate vir die Nasionale Vergadering. Die hof het beslis Zuma kan nie terugkeer na die Parlement nie, omdat hy tot 15-maande tronkstraf gevonnis is vir minagting van die hof. Die uitspraak maak dit vir die kommissie moontlik om vir die verkiesing voor te berei sonder kommer oor regsuitdagings.
# Die DA het ‘n klagte by die Staatsdienskommissie ingedien teen die pas-ondertekende Nasionale Gesondheidsversekeringskema. Die party se woordvoerder oor die Staatsdiens en Administrasie, Leon Schreiber, betoog die NGV onteien mediese fondsbydraes sonder vergoeding en bedreig staatsdiensdoeltreffendheid en arbeidsverhoudinge. Hy beweer die stap saai paniek onder lede van die mediese fonds vir staatsamptenare, Gems, wat Suid-Afrika se grootste mediese hulpskema is:
# ‘n Botsing tussen verskeie voertuie het op die N12 Wes naby die Edenvaleweg-afrit in Germiston aan die Gautengse Oos-Rand plaasgevind. Alle bane is tans gesluit, terwyl die verkeer herlei word. Die N12 Oos is ook gesluit. Nooddienste is op die toneel om die situasie te monitor. Motoriste word versoek om die gebied te vermy en alternatiewe roetes te gebruik.
# Die Internasionale Strafhof doen aansoek om lasbriewe vir die inhegtenisneming van die leier van Hamas, Yahya Sinwar, en die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu, vir beweerde oorlogsmisdade in Gaza. Die hof se hoofaanklaer, Karim Khan, het dit onthul in ‘n eksklusiewe onderhoud met CNN. Die aanklagte teen Netanyahu sluit in die veroorsaking van uitwissing met die doelbewuste teikening van burgerlikes in ‘n konflik. Sinwar word aangekla van uitwissing, moord, gyselaarneming, verkragting en seksuele aanranding in aanhouding. ‘n Paneel regters van die hof sal nou Khan se aansoek oorweeg.
# Boks: Oleksandr Usyk het Tyson Fury geklop en die eerste onbestrede wêreldswaargewigkampioen in 25 jaar geword. ‘n Herontmoeting volg later vanjaar, maar waarskynlik nie om al vier gordels nie. Die Internasionale Boksfederasie wil Usyk intussen sy gordel ontneem as hy nie volgende teen sy verpligte teenstander, Filip Hrgovic, veg nie. Usyk se heerskappy kan dalk net twee weke duur, maar die Oekraïner wil nie nou aan boks dink nie:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-36-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-422-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….