Goeie Nuus
BULLETIN 20 Mei
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Operasie Glimlag Suid-Afrika het ‘n suksesvolle chirurgiese program in Mbombela afgesluit, in samewerking met die provisiale Gesondheidsdepartement, MySchool MyVillage MyPlanet, en vrywilligers. Meer as 24 operasies is uitgevoer, insluitend tandheelkundige prosedures vir volwassenes, alles gratis. Een van die ouers, Promise Thembelihle Mathebula, het groot dankbaarheid uitgespreek nadat haar seun, Mpelo, lewensveranderende chirurgie ontvang het. Die program het ook tandheelkundige werk op 81 kinders gedoen. Een van die vrywilligers, dr Marius van der Walt, sê dit bring groot vreugde om op so ‘n manier lewens te verander.
# Die Universiteit van Pretoria sê hy het ‘n vrieskas by die instelling gevestig wat vir navorsing oor borsmelk gebruik word. Die doel is om vas te stel hoe verskeie soorte medisyne babas beïnvloed wat geborsvoed word. Dit was gister Internasionale Skenk Borsmelk-dag. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê byna ‘n miljoen babas kan jaarliks gered word deur optimale borsvoed-gebruike. Die universiteit werk saam met die Suid-Afrikaanse Borsmelk-bank om borsmelk se aansienlike voordele, soos die bekamping van kindersterftes, te beklemtoon.
# Die Mangosuthu Universiteit vir Tegnologie sê dit is ongelooflik wat Gift of the Givers vir studente oor die jare gedoen het. Die organisasie het sedert 2016 toe die instelling deur erge oorstromings geteister is, droë voedsel, blikkieskos en klere aan studente geskenk. Die organisasie het verlede week kospakkies aan meer as 200 studente verskaf op die universiteit se hoofkampus, Black H Warden. Mbali Mkhize van die instelling sê Gift of the Givers word gemotiveer deur ‘n behoefte om die kwesbaarste te help.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie lei ʼn projek om spesiale fietsry-paaie in Zanzibar te bou, en veral in die Stone Town-area. Die Ontwikkelingsbank van Afrika befonds die projek en dis onder leiding van die Suid-Afrikaanse navorsingsvoorsitter in Ruimtelike Hervorming en professor in Argitektuur by TUT, Amira Osman. Sy sê die projek se doel is om konteks-spesifieke oplossings te vind om Afrika-stede te laat werk. Osman sê dis belangrik om fietsryers die reg en waardigheid op hul eie paaie te gee sodat hulle nie met verkeer hoef mee te ding nie.
# En, dis vandag Wêreld-byedag om mense bewus te maak van hierdie bestuiwers se belangrikheid, die probleme wat hulle bedreig en hulle bydrae tot volhoubare ontwikkeling. Vanjaar se tema is “Bye en die Jeug” en beklemtoon hoe noodsaaklik dit is dat jongmense betrokke raak by byeboerdery en pogings om dié bestuiwers te bewaar. Die Verenigde Nasies sê die doel is om maatreëls te verskerp wat bye en ander bestuiwers beskerm. Die VN voeg by dit sal aansienlik bydra om probleme met wêreldwye voedselsekerheid op te los.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….