Nuus 13:00
BULLETIN 20 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof beslis Zuma kan nie in aanmerking kom vir die Parlement nie
# Die National Alliance werk saam met die GOOD Party
# En, die VF Plus sê die uitnemendheid van andere het ‘n verleentheid vir die ANC geword
# Die Konstitusionele Hof het beslis die voormalige president en leier van die MK-party, Jacob Zuma, mag nie terugkeer na die Parlement nie. Die hof het Zuma vroeër skuldig bevind aan minagting omdat hy ‘n vorige hofbevel verontagsaam het. Regter Leona Theron sê in die uitspraak al is daar in ag geneem Zuma se vonnis is verminder, hou die hof vol die oorspronklike vonnis het 12-maande oorskry, wat hom diskwalifiseer van parlementêre geskiktheid ingevolge die Grondwet:
In nog ‘n verwikkeling het die National Alliance in Gqeberha besluit om die GOOD Party in die algemene verkiesing op 29 Mei te ondersteun. Die alliansie was in 2021 se plaaslike verkiesing in die Nelson Mandelabaai-metro die vierde grootste party, maar het verkies om nie vanjaar deel te neem nie. GOOD se woordvoerder, Janke Tolmay, sê die alliansie stem saam GOOD verteenwoordig die waardes en belange van sy lede en ondersteuners die beste:
# Nuwe regulasies tree vandag in werking om te verseker die Europese Unie neem groter verantwoordelikheid vir sy afval. Die nuwe Afvalvervoerregulasie bepaal strenger reëls vir die uitvoer van afval na lande wat nie aan die EU behoort nie. Die uitvoere het sedert 2004 met 72-persent toegeneem, wat verlede jaar op 35-miljoen-ton per jaar te staan gekom het. Die nuwe regulasies maak ook voorsiening vir groter afskrik-maatreëls vir misdadigers wat by onwettige afvalhandel betrokke is.
# Die Vryheidsfront Plus sê dit is kommerwekkend dat die Suid-Afrikaanse Rugby-unie voortdurend onder druk van die regering is om sekere transformasie-teikens te behaal. ‘n Omvattende oudit van 206-bladsye wat Saru saamgestel het, lui die Springbokke en ander spanne in die land het nie verlede jaar hulle teikens gehaal nie. Heloïse Denner van die VF Plus sê Rassie Erasmus en sy span het die afgelope aantal jare meer vir transformasie en nasiebou gedoen as wat die ANC in 30 jaar kon regkry:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-931-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-445-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-84-sent per vat.
# En, ‘n tiener koderings- en robotika-span met die naam Team Checkmate het ‘n deurbraak gemaak met die skepping van ‘n skaakbord vir blindes. Die idee is deur ‘n spanlid, Jair February, geïnspireer wat graag skaak teen sy blinde ma wou speel. Die jeugdiges is van die Booster Kids-skool in Kaapstad wat mobiele klasse in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese, kuns en wiskunde aanbied. Team Checkmate bestaan uit Jair, Ryan Fortuin, en Abigail Schubert en hulle gaan Suid-Afrika in Julie op die 2024 Asia Pacific ope-kampioenskap se First Lego League in Australië verteenwoordig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….