Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Die Vryheidsfront Plus sê dit is kommerwekkend dat die Suid-Afrikaanse Rugby-unie voortdurend onder druk van die regering is om sekere transformasie-teikens te behaal. ‘n Omvattende oudit van 206-bladsye wat Saru saamgestel het, lui die Springbokke en ander spanne in die land het nie verlede jaar hulle teikens gehaal nie. Heloïse Denner van die VF Plus sê Rassie Erasmus en sy span het die afgelope aantal jare meer vir transformasie en nasiebou gedoen as wat die ANC in 30 jaar kon regkry:
# Sokker: Manchester City het Manchester United nou verbygesteek en die enigste span geword wat die Premierliga vier agtereenvolgende jaar kon wen. Die span moes wen om Arsenal te klop, en twee doele van Phil Foden en een van Rodri was genoeg vir Pep Guardiola se span om West Ham drie-een te verslaan en die titel met twee punte te buit. City spog nou met ses uit die afgelope sewe Premierliga-titels. Guardiola sê sy span se prestasies is spesiaal:
# Gholf: Xander Schauffele het sy eerste Major-oorwinning behaal deur die PGA-kampioenskap met een hou in te palm. Die Amerikaner het sy landgenoot Bryson DeChambeau en Viktor Hovland van Noorweë die loef afgesteek deur 21 onder baansyfer aan te teken op Valhalla in Kentucky. Die wêreld se nommer-een, Scottie Scheffler van Amerika, het gesamentlik agtste geëindig en Rory McIlroy van Ierland het die 12de plek gedeel. Shauffele sê hy net nie vir ‘n oomblik getwyfel aan sy vermoëns nie.
# Motorsport: Die Red Bull-renjaer Max Verstappen het ‘n laat aanslag deur Lando Norris van McLaren afgeweer en die Emilia Romagna Grand Prix in Italië gewen. Charles Leclerc het derde geëindig en Ferrari se eerste podiumplek sedert 2006 op Imola behaal. Oscar Piastri het vierde geëindig vir McLaren, en Carlos Sainz van Ferrari vyfde. Dit was Verstappen se vyfde sege in sewe wedrenne hierdie seisoen. Die Nederlander sê hy het hard geveg om die oorwinning te behaal:
# En, tennis: Die 27-jarige Alexander Zverev van Duitsland sê hy is vol vertroue in aanloop tot die Franse Ope nadat hy sy tweede Italiaanse Ope-titel in Rome gewen het. Die derde gekeurde Duitser het Nicolas Jarry van Chili 6-4, 7-5 geklop om sy sesde Meesters Een-duisend-kroon op te raap. Dis sy grootste titel sedert hy in 2022 sy enkel beseer in die halfeindronde op Roland Garros. Zverev, wat tans vierde op die wêreldranglys is, sê hy hoop hy kan hierdie momentum oordra na Parys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….