Nuus 11:00
BULLETIN 20 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die NGV beoog om ‘n gehalte-gesondheidstelsel vir alle burgers te bied
# Die Departement van Verdediging verwerp Mapisa-Nqakula se versoek om hulp met haar regskoste
# En die Iranse regering bring hulde aan president Raisi nadat hy in ‘n vliegongeluk sterf
# President Cyril Ramaphosa sê die Nasionale Gesondheidsversekering moet die onderskeie sterkpunte van die privaat- én openbare gesondheidsektore inspan om ‘n enkele, gehalte-gesondheidstelsel vir almal te skep. Opposisiepartye, vakbonde en mediese instellings is vasberade om die NGV-wet in die hof te betwis en voer aan dit is ongrondwetlik. Ramaphosa sê die werklike uitdaging met die instelling van die NGV is nie ‘n gebrek aan fondse nie, maar die verkeerde aanwending van bronne wat die privaat-gesondheidsektor bevoordeel ten koste van openbare gesondheidsbehoeftes.
Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê intussen hy het ʼn projekbestuurder aangestel om aanbevelings in die gesondheidsombud se verslag oor die Rahima Moosa Moeder-en-kind-hospitaal vinnig in te stel. Dit sluit in dat die huidige uitvoerende hoof, Arthur Manning, onmiddellik permanent aangestel word, dat die hospitaal se organogram hernu word aangesien dit in 2006 laas bygewerk is, en dat infrastruktuur opgeknap word. Die departement se woordvoerder, Motatale Modiba, sê oorsigkomitees is ook aangestel:
# Die Departement van Verdediging en Militêre Veterane het die gewese speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se versoek verwerp dat die departement haar regskoste moet betaal. Sy word van korrupsie aangekla nadat sy na bewering ‘n gunsloon van 2,5-miljoen-rand van ‘n kontrakteur ontvang het terwyl sy minister van Verdediging en Militêre Veterane was. Mapisa-Nqakula is tans uit op borgtog van 50-duisend-rand. Die huidige minister, Thandi Modise, sê die betrokke owerhede het die saak deeglik oorweeg:
# Die Iranse regering het hulde gebring aan president Ebrahim Raisi, en sê hy was ‘n harde werker wat die mense van Iran goed gedien het. Die president en agt ander mense, insluitend die minister van Buitelandse Sake, Hossein Amir-Abdollahain, is dood in ‘n helikopterongeluk in die noordweste van Iran. Sy dood kom op ‘n onstuimige tydstip in die Midde-Ooste met die oorlog wat in Gaza woed. Raisi se kabinet sê vise-president Mohammad Mokhber sal die land intussen regeer. ‘n Verkiesing vir ‘n nuwe president word binne ‘n maksimum van 50 dae vereis.
# Tennis: Die 27-jarige Alexander Zverev van Duitsland sê hy is vol vertroue in aanloop tot die Franse Ope nadat hy sy tweede Italiaanse Ope-titel in Rome gewen het. Die derde gekeurde Duitser het Nicolas Jarry van Chili 6-4, 7-5 geklop om sy sesde Meesters Een-duisend-kroon op te raap. Dis sy grootste titel sedert hy in 2022 sy enkel beseer in die halfeindronde op Roland Garros. Zverev, wat tans vierde op die wêreldranglys is, sê hy hoop hy kan hierdie momentum oordra na Parys:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-634-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-440-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….