Nuus 07:00
BULLETIN 20 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA loof Suid-Afrikaners wat oorsee stem
# Onderhoude vir drie vakante poste by die Appèlhof begin vandag
# En ‘n helikopter met Iran se president aan boord het neergestort
# Die DA bedank die tien-duisende Suid-Afrikaners wat die naweek oorsee by ambassades en konsulate gestem het. Die DA-leier John Steenhuisen sê in ‘n verklaring hulle toewyding, ondanks lang reise en ure in rye, onderstreep hulle liefde vir Suid-Afrika en vasberadenheid om ANC-korrupsie stop te sit. Hy voeg by, die DA waardeer hulle opoffering en beskou dit as ‘n ware demokratiese heldedaad:
# RISE Mzansi se leier, Songezo Zibi, sê sy party het ‘n regte en werkbare plan om die ekonomie weer te laat werk, kindertoelaes te verdubbel en die strafregstelsel te laat werk. Duisende ondersteuners het gister by die Ruimsig-stadion in Roodepoort vergader vir die party se laaste saamtrek voor die algemene verkiesing op 29 Mei. Zibi sê hulle is gereed om burgers te dien soos die Grondwet vereis, nie op die manier wat vergete en nagelaat is deur die ou, moeë en korrupte ANC-leiers nie:
# Die Regterlike Dienskommissie voer vandag onderhoude met tien kandidate vir drie poste by die Appèlhof. Dit sluit in regters van die Oos-Kaapse Hooggeregshof, John Smith en Nozuko Mjali, regters van Gauteng, Thina Siwendu en David Unterhalter, en die Wes-Kaapse regter Elizabeth Baartman. Judges Matter sê dis uiters noodsaaklik om die heel beste regters vir die Appèlhof te kies, aangesien 18 van die 25 Appèlhofregters die afgelope vyf jaar vervang is.
# Die minister van Openbare Werke, Sihle Zikalala, het ʼn deeglike ondersoek aangevra na die ineenstorting op ʼn bouterrein in Ballito, KwaZulu-Natal, wat die lewens van vier werkers geëis het. Veertien werkers was op die perseel toe ʼn muur Saterdag ingestort het. Zikalala sê hy het die Raad vir die Bou-omgewing opdrag gegee om saam met die Suid-Afrikaanse Raad vir Projek- en Bestuursberoepe te werk om die voorval te ondersoek.
# ʼn Soek-en-reddingsoperasie is aan die gang nadat die helikopter waarin Iran se president, Ebrahim Raisi, gereis het in die noordelike deel van die land neergestort het. Onder die nege mense aan boord, was die president, die minister van Buitelandse Sake en die goewerneur van die oostelike Azerbeidjan-provinsie. Volgens berigte het die helikopter in digte mis in die moeilikheid geraak. Iranse amptenare sê hulle het die ongelukstoneel geïdentifiseer, maar swak weerstoestande en digte mis maak die reddingsoperasie baie moeilik.
# Motorsport: Red Bull-renjaer Max Verstappen het ʼn laat aanslag deur Lando Norris van McLaren afgeweer en die Emilia Romagna Grand Prix in Italië gewen. Charles Leclerc het derde geëindig en Ferrari se eerste podiumplek sedert 2006 by Imola behaal. Oscar Piastri het vierde geëindig vir McLaren, en Carlos Sainz van Ferarri vyfde. Dit was Verstappen se vyfde sege in sewe wedrenne hierdie seisoen. Die Nederlander sê hy het hard geveg om die oorwinning te behaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-668-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-432-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….